WESKUS – Die Hoërskool Vredenburg se oulike skoolkoerant, die Bokkompie, is al etlike dekades oud.
En nou is dit ook digitaal beskikbaar!
Die skoolhoof, Bartho Brittz, sê daar is verlede jaar al met die eerste digitale Bokkompie geëksperimenteer, maar die gedrukte weergawe van die koerant is steeds saam met die digitale weergawe uitgegee.
Verlede maand het hierdie koerant vir die heel eerste keer uitsluitlik in ’n digitale formaat verskyn. Volgens Brittz is die nuwe formaat positief ontvang en die “leerders is baie opgewonde daaroor”.
Die redaksiespan bestaan uit een onderwyser, graad 11-leerders en enkele matriekleerders. Sommige van die leerders oorweeg om ná hul matriekjaar joernalistiek as ’n studierigting te kies.
“Die leerders wat by die koerant betrokke is, is baie fluks, kreatief en verantwoordelik. Ons hoef hulle nie eens aan die spertye te herinner nie.”
Brittz reken die ervaring wat die Bokkompie se redaksiespan tans opdoen, is baie kosbaar en sal vir hulle deure in die toekoms oopmaak.
Besoek hsvredenburg.co.za om die Bokkompie af te laai.