Die toekennings vir vanjaar se wenners van die Andrew Murray-prysfonds is Vrydagaand oorhandig en Wellington se Marlene le Roux, hoof van die Kunstekaap in Kaapstad, is vereer met die gesogte Jaap Durand-Denise Ackermann-prys vir eenheid, versoening en geregtigheid.
Sy sê sy is baie emosioneel oor die prys en dit is betekenisvol vir haar.
As kind is haar kinderkoor nie toegelaat in die NG kerk nie, weens die destydse groepsgebiedewet. Hulle moes wag tot dit hul beurt was om te sing voor hulle toegelaat is.
Die toekennings is vanjaar 45 jaar oud en is gestig op inisiatief van die Wamakersvalleise Kultuurraad en Bybelkor met die 150ste herdenking van Murray se geboortedag.
Die prysfonds is aanvanklik gestig om Afrikaanse Christelike en teologiese publikasies te bekroon.
Mettertyd het die missie verruim en is die ontslape emeritus aartsbiskop dr. Desmond Tutu gevra om sy naam aan dié van Murray te koppel – ook as blyk van versoening.
Naas die Andrew Murray-prys vir Christelike en teologiese media in Afrikaans het die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir soortgelyke media in ander amptelike tale van Suid-Afrika in 2006 tot stand gekom.
Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk is ook bygevoeg. Brand was ’n Stellenbosse teoloog en eertydse boekeredakteur.
Marlene is onder meer betrokke by jeugontwikkeling en was in 2014 saam met Karen Smit die medestigter van die Women’s Achievement Network vir gestremdheid.
Sy het in die Londense Olimpiese Spele-komitee gedien om kunsprojekte te kies vir die Paralimpiese Spele in 2012.
Sy is deur die Duitse regering vereer vir haar werk met agtergeblewe gemeenskappe en het eredoktorsgrade van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie en die Universiteit Stellenbosch ontvang.
Met die aanvaarding van die Jaap du Rand-Denise Ackerman-toekenning besin Marlene oor die werk van diegene wat voor haar gekom het.
Le Roux was een van ses toekennings van die Andrew Murray-prysfonds.
Le Roux het enkele sleutelgebeure uit haar lewe vertel.
“Hoekom vertel ek hierdie gebeure van meer as 30 jaar gelede? Want ons moet mekaar se pynlike stories vertel en hoor; sodat ons by mekaar kan leer en in mekaar kan begin glo; sodat ons ons menswees kan herontdek, saam kan genees en saam hoop,” sê sy.
“Pumla Gobodo-Madikizela skryf dat vergifnis die verkeerde woord is om te beskryf wat ontvou wanneer ’n slagoffer die oortreder teëkom, soos die jong wit soldaat uit my jeug, voeg sy by.
“Wanneer ons mekaar se pyn aanskou en erken, dra ons ’n verantwoordelikheid wat deernis en omgee oordra.”
Sy noem hierdie proses “empatiese herstel”, wat nie net na jou eie genesing verwys nie, maar ook na ons verantwoordelikheid om deel te neem aan die bou van ’n samelewing waarin mense bymekaar kan kom en medemens kan wees – om die ander aan te raak, om die ander te voel, met ander te deel in die visie van ’n meer menslike samelewing.
“Ek wil afsluit met ’n aanhaling van wyle aartsbiskop Tutu aangesien ek ook hierdie toekenning ter nagedagtenis ontvang.
“Transformasie begin in jou, waar jy ook al is, wat ook al gebeur het, jy lei egter. Transformasie is altyd moontlik. Ons genees nie in isolasie nie,” sê Le Roux.