Ons is nou werklikwaar weer in die midde van die lawwe seisoen en dis asof die jaar soos ’n komeet verbygejaag het.
Ja, die einde van die jaar is op ons en met my dolle skedule begin ek ook al hoe meer terugdink oor die jaar wat nou op sy einde is.
En wat my die meeste opval, is die Nuwejaarsvoornemens wat voel asof dit net nou die dag op 1 Januarie vanjaar gemaak is. Want dis mos weer eens tyd om te dink aan nuwe voornemens wat gemaak moet word vir die komende jaar waardeur ons nou in die gesig gestaar word.
Wel, verlede jaar het ek my weer eens voorgeneem om ’n paar oortollige kilogram te verloor. Maar dit het nou nie so mooi uitgewerk nie, al het ek regtigwaar “soms” hard probeer.
My ander voorneme vir 2025 was om weer fiks te word en my drafskoene af te stof.
Ek kan eerlikwaar sê, ek het probeer – in die begin van die jaar by ’n drafgroepie aangesluit en drie keer per week was ons om 05:30 op straat aan’t hol.
Ek het dit selfs reggekry om ’n paar 10 km-wedlope te draf.
Maar die jaar het sy tol geëis met uitermatige werkverwagtinge en dan beserings ook – wat blyk op my ouderdom maar die norm te wees.
My belangrikste voorneme vir dié jaar was wel om elke maand een geskenk te koop om die verskriklike rondhardlopery en geldweggooiery in Desember sagter op die gemoed en die beursie te maak.
Nou moet ek bieg – twee weke voor Kersfees en daar is nie eens een geskenk onder die Kersboom nie.
So begin ek skarrel en lysies maak van wie die belangrikstes in my lewe is vir wie ek nou gaan moet skarrel en Kersgeskenke vind, en ek sidder om daaraan te dink.
Want sien, ek is geensins ’n mens wat lief is vir ’n winkel nie; nog minder ’n winkelsentrum. Diegene wat my ken weet ook dat ek nie sentimenteel is nie en van trane stort weet ek min.
Maar daar is wel twee dinge wat vir my tot trane dryf. Die een is om Kersgeskenke te moet koop. Die ander een is die volgende verhaal wat sekerlik die mooiste Kersverhaal nog is – een wat my laat wonder hoekom hardloop ons soos afkophoenders deur die winkels en blaas ons bankbalanse dié tyd van die jaar.
Dus voel ek verplig om Charles Tazewell se wonderlike verhaal kortliks met julle te deel.
’n Kleine seuntjie beland op ’n jong ouderdom in die hemel. Soos enige ander seuns is hy vol kattekwaad, tot die irritasie van die ouderling-engele wat op hul wolke pronk.
Eendag word in die hemel aangekondig dat die Vader se seun gebore gaan word en die hoof-ouderling roep almal in die hemel nader en vra dat geskenke vir dié kleinding aangedra moet word.
Die engele het natuurlik waardevolle besittings byderhand om as geskenk te gee, maar die kleinste engeltjie het niks.
Al wat hy saam hemel toe geneem het, was ’n eenvoudige houtkissie met sy heel waardevolste besittings daarin.
Binne-in was ’n droë vlinder met goue vlerke, twee klein blou voëleiers, ’n paar spierwit klippies en sy oorlede hondjie se verweerde halsband. Dit was sy aardse skatte en die maat van sy besittings toe hy die aarde verlaat het.
Die ander engele het in hul mou gelag en gedink dat dit summier deur die Groot Man van die hand gewys gaan word.
Toe die groot dag aanbreek en die engele in die hemel plaas hul geskenke aan die voet van die troon, was die kleinste engel maar skaam oor sy nederige geskenk.
Maar die Vader het met verwondering daarna gekyk. Dit was Sy heel gunsteling geskenk vanweë die eenvoud, aardsheid en menslikheid daarvan.
Hy het dié verweerde kissie met sy eenvoudige inhoud daarin opgestuur die hemelruim in as die aandster wat blink bo die stal waar Sy seun gebore is.
Sou dit nie ons lewe soveel meer betekenis gegee het as ons met Kerstyd iets uit die hart gegee het in plaas van iets uit die beursie nie?
Sekerlik beteken ons waarde van gee meer as ’n klompie rand wat doelloos in ’n winkel bestee word op iets wat uiteindelik en in elk geval min beteken?