Die plaaslike brandweer en reddingsdienste het Dinsdagoggend (15 Augustus) gespook om inwoners van ’n brandende woonstelblok in Kasteelstraat in die Paarl te red. Maar een persoon kon nie daarin slaag om sy woonstel te ontsnap nie en het doodgebrand.
Die brand het net na 08:00 uitgebreek by een van die woonstelle op die heel boonste verdieping. Een inwoner vertel dat sy op pad was om te gaan stort voor werk toe sy hoor haar bure maak alarm.
“Ek het net my motor se sleutels gegryp en my motor uitgetrek.”
Sy sê teen 11:00 het die brandweermanne steeds gesukkel om die brand heeltemal te blus omdat dit nog onderlangs gesmeul het. Dit is ook aangehits deur ’n sterk wind.
Volgens ’n betroubare bron wat op die toneel was is die oorledene ’n manspersoon. ’n In-diepte ondersoek moet nog afgehandel word deur die polisie, maar dit wil voorkom asof die slagoffer oorval is met rook en ineengestort het, verduidelik die bron.
Die slagoffer se lewelose liggaam is op die boonste verdieping gevind van die woonstelblok, waar hy naby ’n deur gelê het. Hy is onherkenbaar verbrand.
• Dit is ’n ontwikkelende storie, lees verder in Donderdag se Paarl Post.