Wanneer een jongmens besluit om sy of haar eie lewe te neem, raak dit nie net hul familie nie, maar dit het ’n hartseer rimpeleffek op die hele gemeenskap.
Paarl Post het vroeër vanjaar berig oor vier jongmense – drie van die Paarl en een van Franschhoek – wat tussen Januarie en Maart vermoedelik hulle eie lewe geneem het. Drie van die jongmense was hoërskoolleerders en een was ’n laerskoolleerder.
Die jongmense se skielike dood het ’n groot leemte gelaat. Een van die jongmense, Danisha Windvogel, se vermoedelike selfdood het groot opspraak gemaak. Dié 14-jarige was ’n leerder by Hoërskool Franschhoek en is na bewering deur leerders by die skool geboelie.
Vandeesmaand – September – is Selfdoodbewustheidsmaand. Jongmense besluit om verskeie redes om hul eie lewe te neem. Boeliegedrag en depressie is maar net sommige van die baie redes. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie neem ’n een tiener elke 40 sekondes hul eie lewe en elke drie sekondes wend iemand ’n poging aan om selfdood te pleeg. Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) sê agt persent van alle sterftes wat by akademiese hospitale in Suid-Afrika aangemeld word, is as gevolg van jongmense wat hul eie lewe geneem het.
“Risikofaktore vir selfdood onder jongmense sluit in die teenwoordigheid van geestesongesteldheid – veral depressie, gedragsversteuring, alkohol- en dwelmmisbruik, vorige selfdoodpogings en die beskikbaarheid van vuurwapens in die huis. In Suid-Afrika is 60% van mense wat selfmoord pleeg, depressief.”
Hoewel Geleisha en Danver Windvogel, Danisha se ouers, in hartseer gedompel is, wil hulle graag uitreik na ander jongmense en pleit dat hulle nie hul eie lewe neem nie.
“As ouer sal ek dit wat ons as familie deurmaak, vir geen ander familie toewens nie. Dit is ’n onbeskryflike gevoel wat ons menswees breek. Vir kinders daar buite – die mense wat jou liefhet en wat jy agterlaat, se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Dis pynlik om soggens op te staan; dis pynlik om saans jou oë toe te maak. Die donker wolk van hartseer en droefheid voel asof dit nooit sal verdwyn. Om jou eie lewe te neem, vergemaklik niemand wat jou liefhet en vir wie jy lief is, se lewe nie. Niks in hierdie lewe kan nie verbeter of reggemaak word nie, maar om iets te verbeter, moet daaraan gewerk word. Ons as ouers is lief vir julle. Praat met ons oor jul gevoelens en wat in jul lewe aangaan. Ons kan help, en indien nie, kan baie mense wat goed gekwalifiseerd is, jou op verskillende vlakke help.”
Geleisha het voorheen aan Paarl Post gesê hulle het Hoërskool Franschhoek kort voor Danisha se dood besoek om boeliegedrag teenoor haar aan te meld. Danisha en haar maats was glo die teikens van boelies, en sy was altyd die een wat vir haar vriende opgekom het, het haar ma gesê.
“Dit was maar ’n week voor die voorval dat sy regtig oopgemaak het en vertel en gewys het wat aan die gang was.”
Omdat Danisha altyd ’n vrolike en uitgesproke kind was, het haar familie nie regtig besef iets is fout met haar nie, behalwe dat sy ’n maand voor haar dood begin “af” lyk het. Sy was ook nooit depressief tot so ’n mate dat ander dit kon oplet nie. As Geleisha nou terugdink, onthou sy haar dogter het teruggetrokke geraak en haar slaap- en eetpatrone het ook verander.
“Kinders het ’n manier om dinge weg te steek en op hul eie manier met hul probleme te probeer deal om hul volwassenheid te probeer bewys
Geleisha vra ook dat kinders wat ander kinders teiken en afkraak, se ouers moet naderstaan en hul kinders vermaan.
“Ons het nie in ’n tyd van sosiale media, waar mense agter ’n skerm lelik is teenoor mekaar, grootgeword nie. Dit is nie reg om ander se selfbeeld af te kraak of ander op watter vlak ook al te boelie nie. Ek is seker ons ouers het ons nie met sulke waardes – om ander te haat of lelik te wees met ander – grootgemaak nie. Ons wil almal opstaan vir ons kinders, maar daar is ’n fyn lyn om op te staan vir reg en verkeerd. Ons kan nie ons kinders se toekoms bepaal nie, maar ons kan hulle leiding gee met die goeie waardes waarmee ons grootgeword het.”
Een ding is seker – die lewe vir die Windvogels sal nooit weer dieselfde wees nie. Hulle pak elke dag aan soos dit kom, maar elke nuwe dag is asof hulle die bitter pil van Danisha se dood van vooraf moet sluk.
“Dit is maar moeilik; ons is op ’n emotional rollercoaster. Een oomblik voel jy, jy kan die lewe met alle moed aandurf, en die volgende oomblik voel jy so emotionally broken. Jy voel net nie jouself nie. Die afwesigheid van jou kind vreet jou op. Die hartseer put jou uit. Daar is geen manier om jou hiervoor voor te berei nie. Geloof in God is die enigste waaraan jy kan vasklou. Ons sien sielkundiges en ons jongste dogtertjie sien ’n psigiater om die trauma te verwerk. Ek glo as jy van buite kyk, lyk alles oukei, maar wanneer jy as familie alleen is, kom die ware hartseer na vore.”
Danisha word ook oorleef deur haar oudste suster, Naisha, en jongste suster, Cataleya.
- When one young person decides to take their own life it not only affects their family, but it has a sad ripple effect on the whole community. September is suicide prevention month.


