Die afgelope naweek was dit die eenjaar-herdenking van die tragiese ongeluk in Bainskloofpas waarin die drie broers Caleb Booysen (8), Gradwell Booysen (5) en Joshua Booysen (2) gesterf het.
Die Booysen-broers is op 20 November 2021 dood nadat hulle sowat 80 m teen die berg af gery het saam met hul oumagrootjie Sarie de Villiers. De Villiers het die voorval oorleef.
Die dag van die ongeluk het die kinders by De Villiers en ander familielede in Wellington gekuier. Sy sou die kinders vroegaand na hul huis in New Rest neem. De Villiers en die kinders het egter nooit daar uitgekom nie.
Kol. Johan Barkhuizen, die Wellington-polisie se bevelvoerder, het egter omstreeks 20:00 dieselfde aand die familie oor die tragedie ingelig.
Ten tyde van die ongeluk was padwerke onderweg op Bainskloofpas en daar was stop-en-ry-punte om beweging op die pad te vergemaklik. De Villiers het volgens ooggetuies geweier om by stop-en-ry-punte stil te hou en het selfs deur ’n geslote valhek-beheerpunt op die pad gejaag. Die vinnige optrede deur puntdiens-beamptes aan diens het daartoe gelei dat alle ander verkeer gestop is om ’n botsing reg van voor te vermy. Toe die voertuig nie by die vierde punt aankom nie, is ’n patrollievoertuig uitgestuur, wat ontdek het dat die voertuig van die pad af gery en teen die pas af geval het.
Gradwell en Caleb is op slag dood. Klein Joshua het nog gelewe, maar as gevolg van die moeilike taak van die nood- en reddingspan om hom tot bo by die pad te bring, het hy as gevolg van sy beserings beswyk. Dit was ook te winderig en mistig vir ’n helikopter om te vlieg. De Villiers is na ’n nabye hospitaal vervoer met gebreekte ribbes en nekbeserings.
’n Saak van strafbare manslag is geopen en word ondersoek deur die Worcester-polisie.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, sê die ondersoekbeampte het die saak oorhandig aan die senior staatsaanklaer by die Worcester-landdroshof.
“Die speurder het my meegedeel dat die saak na die senior staatsaanklaer gestuur is en dit het nog nie na hom teruggekom nie. Die dossier is hof toe gestuur, die oponthoud is daar in die hof. Hulle kan met niks voortgaan totdat die senior staatsaanklaer besluit of sy gaan vervolg of nie.”
Paarl Post het sonder enige sukses probeer uitreik na De Villiers se seun, Carl Smit, om te hoor hoe dit met sy ma gaan, en of sy enigiets van die ongeluk onthou.
- This past weekend was the one-year anniversary of the tragic accident on Bainskloof Pass in which the three brothers Caleb (8), Gradwell (5) and Joshua Booysen (2) died.


