Hoewel die tweejarige Eden Lithaba se ma hoopvol was dat haar seuntjie se gesondheid ’n goeie wending sal neem, was dit tevergeefs.

Eden is verlede Maandagoggend (22 Januarie) tuis oorlede, vertel sy ma, Leonora Lithaba. Sy familie woon op Waterfliet-plaas in Saron.

“Hy het saggies heengegaan. Ek het net vinnig badkamer toe gegaan en toe ek terugkom om hom te voed, het hy al afgesterf. Ek het CPR gedoen, maar hy was reeds oorlede.”

Paarl Post het einde verlede jaar berig oor klein Eden wat ’n nuwe voedingsbuis benodig sodat hy deur sy maag gevoed kan word. Eden het voeding deur sy neus gekry en die voedings het soms in sy longe beland, wat longontsteking veroorsaak het.

“Die dokters het gesê sy longe het permanente skade opgedoen as gevolg van al die kere wat hy longontsteking gehad het. Dit het veroorsaak dat sy longe begin ingee. Dokters het vir my alles verduidelik en gesê wat ek kan verwag. Hulle het gevra of ek hom in die hospitaal wil laat bly of huis toe wil neem. Ek het verkies dat hy by die huis sterf,” sê ’n hartseer Lithaba.

Lithaba was sewe maande swanger toe sy telkemale met ’n mes gesteek is. Sy het voorheen aan Paarl Post vertel dat dit vir haar eintlik ’n baie “emosionele saak” is omdat haar eie dogter haar met die mes gesteek het.

“Sy was toe 15 jaar oud. Ek het haar op die betrokke dag aangespreek omdat sy die vorige aand sonder my en haar pa se toestemming uitgeslaap het. Ek het gesê dit is onaanvaarbaar en dis nie volgens die reëls van ons huishouding nie. Ek was van plan om kos te maak en het toe eers badkamer toe gegaan. Toe ek uit die badkamer kom, het ek by haar kamer ingegaan terwyl sy op die bed gelê het, en haar aan die arm getrek en gesê sy moet opstaan en buite gaan sit, want sy het klaar heelnag uit die huis geslaap.

“Sy opgespring met ’n mes in die hand en my in die kop gesteek. Daarna het sy my nog ’n paar keer gesteek, maar ek kon nie eens voel hoe die mes my liggaam tref en ingaan nie. Ek en sy het gestoei en die mes het uit haar hand geval; ek kon dit toe onder die bed inskuif. Ek het op my rug op die grond gaan lê en ’n kombersie geneem en onder my kop gesit om die bloeding te stop, maar dit het nie gehelp nie. Ek onthou hoe ek in my eie bloed verstik het.”

Tydens die voorval het Lithaba haar bewussyn verloor en ophou asemhaal. As gevolg hiervan is suurstof na die ongebore Eden afgesny, wat groot skade aan sy liggaam veroorsaak en tot sy gestremdheid gelei het. Sy slukderm het ook groot skade opgedoen en Eden kon dus nie sluk nie.

Volgens Lithaba laat haar engelkind ’n groot leemte. Eden se sterfte is ook baie erg vir sy pa en ouer broer.

Lithaba sê haar dogter was baie emosioneel. “Dit is bitter seer. Ja, die berou is daar, maar vergifnis speel ’n groot rol in ’n mens se lewe en ’n mens moet mekaar volkome vergewe. As jy agtertoe kyk, dan gaan jy agterbly, maar as jy vorentoe kyk, gaan die Here vir jou baie meer nuwe dinge doen.”

Lithaba het haar dank uitgespreek aan die personeel van die Paarl-hospitaal wat haar oor die twee jaar goed ondersteun het met Eden, en vir almal in die gemeenskap se omgee vir haar kind.

. Eden word Saterdag begrawe. Besigtiging is om 09:00 tuis, waarna die stoet na die begraafplaas sal gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article