Met die wêreld wat elke dag ontwikkel en verander is e-leer die toekoms van onderrig by skole. Terwyl daar ’n paar skole is wat reeds e-leer ingestel het, is daar nog skole wat dié manier van onderrig oorweeg.

Die Hoër Meisieskool Paarl maak al vir die afgelope ses jaar gebruik van e-leer. Dit is in 2016 geïmplementeer en die gr. 9-leerders was aanvanklik die primêre teikengroep. Oor die jare is e-leer verder uitgebrei in die verskeie grade van graad 6 tot 12.

Volgende jaar sal Chromebooks, digitale handboeke, as ’n onderrighulpmiddel in sekere grade ingefaseer word by die skool.

E-leer is die elektroniese lewering van leer en onderrig deur middel van digitale hulpbronne en die internet.

“Die gebruik van digitale pedagogie hou die voordeel in dat dit studentebetrokkenheid in die onderrigproses kan verhoog, asook studentestemme bemagtig en meer betekenisvolle leerervarings kan skep.

“Generation Z”- of “iGeneration”-leerders is die eerste generasie wat van jongs af grootgeword het met die internet en digitale toestelle. Tegnologie is hul gemaksone. Die gebruik van tegnologie skep dus ’n praktiese, interaktiewe en toeganklike leeromgewing wat dan onafhanklike en selfgerigte leer aanmoedig,” meen HMS Paarl se hoof van inligtingstegnologie, Marlene Dreyer.

“Tegnologie is wel net ’n hulpmiddel. Die doeltreffendheid van opvoedkundige tegnologie hang af van wat opvoeders daarmee doen en hoe hulle dit aanwend om die beste in die behoeftes van hul leerders te voorsien. Indien e-leer reg hanteer word, kan die werklike wêreld met die druk van ’n knoppie deel raak van elke klas, maar met die internet se onbeperkte inligting moet opvoeders die leerders help om die massas inligting te sorteer en help om te bepaal watter bronne vertrou kan word en watter nie.”

Die skool maak dit duidelik dat die leerders se fisieke skryfvermoë nie verlore gaan nie. Vir HMS Paarl is dit belangrik dat daar ’n balans tussen digitale leer en om fisiek te skryf in ’n boek is. Ten spyte van e-leer moet die kinders steeds hul finale eksamens fisiek aflê.

onderwyser nooit vervang

“Daar is leerders wat verkies om die hardekopie-weergawe (handboeke) in sekere vakke te gebruik en hulle is dan welkom om daardie boeke by die boekstoor vir die jaar uit te neem. Ons gebruik wel elektroniese handboeke in die meeste van ons vakke aangesien dit meer opgedateer is as die hardekopie-weergawes en ook omdat leerders nie soveel boeke hoef rond te dra nie. Sommige van hierdie elektroniese boeke is ook interaktief met video’s wat sekere konsepte goed verduidelik,” sê Dreyer.

Voordele van e-leer sluit in dat dit leerders leer om verantwoordelikheid te neem vir hul eie leer sodat hulle meer onafhanklik kan optree. Onderwysers deel nie fisiek notas uit nie, maar die leerder moet dit self aflaai. ’n Nadeel is dat leerders geïsoleerd kan raak in hul leerproses indien daar nie aan maniere gewerk word om samewerkende leer te bevorder nie.

HMS Paarl doen dus hul bes om leerders deur e-leer te leer en te bemagtig. Die skool maak dit ook duidelik dat die manier van onderrig nooit ’n onderwyser in hul klaskamer sal kan vervang nie.

“Die onderwyser is die mens wat passie vir die vakgebied skep, wat leerders motiveer om leergierig en nuuskierig te bly en wat balans tussen individuele leer, groepwerk en die verbetering van leerders se skryfvermoë in elke lesaanbieding moet bring,” voeg Dreyer by.

Met die koronavirus-pandemie was skole genoodsaak om in ’n mate gebruik te maak van e-leer omdat die kinders nie fisiek klasse by die skool kon bywoon nie. Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het die internasionale organisasie Unesco ’n verslag uitgereik wat oor onderrig ná Covid-19 uitbrei. Die verslag dui darem aan dat daar nie teruggekeer kan word na hoe die wêreld voorheen was nie. Dit geld vir die instelling van e-leer.

gemengde leer wêreldwyd

“Die Covid-19-krisis het die belangrikheid van digitale konnektiwiteit en aanlynplatforms aan die lig gebring en die pandemie het ’n massiewe verskuiwing na digitale en afstandsonderrig genoodsaak,” verduidelik Hammond.

Sy sê verder: “Jare se beplanning en die implementering van die WKOD se e-leerstrategie het die weg gebaan vir 21ste eeuse digitale leer en die wêreldwye neiging van gemengde leer. Die WKOD se strategie oor die afgelope ses jaar was daarop gemik om te verseker dat leer enige tyd en oral kan plaasvind. Hierdie benadering was veral nuttig tydens die verklaarde nasionale ramptoestand toe leerders nie fisiek in die klaskamer kon wees nie. Dit het ook skole gehelp om die uitdagings van Covid-19-verwante sosiale distansiëringsvereistes te navigeer.”

Intussen het die Primêre Seunskool Paarl gesê dat hulle nog nie e-leer geïmplementeer het nie, maar hulle het reeds gesprekke met ouers hieroor begin en hoop om in 2023 te begin.

Die skool het dit ook duidelik gemaak dat wanneer e-leer ingestel word, leerders die opsie gegee sal word om steeds gebruik te maak van fisieke handboeke.

  • With the world changing every day, e-learning is the future of teaching in schools. There are a few schools that have already introduced e-learning.

You need to be Logged In to leave a comment.