Dylon Maart speel nou op 30-jarige ouderdom sy beste rugby.


Dylon Maart, ’n oudleerder van Klein Nederburg Sekondêr, het sy rugbyloopbaan in die B-span van sy skool begin. Dit was hier waar hy sy liefde vir die spel ontdek het, al is hy aanvanklik nie as goed genoeg beskou nie. Hy het later by Young Standards aangesluit, waar sy passie vir rugby verder gegroei het.

Dylon, ook bekend as Thabo, het sy eerste groot deurbraak beleef toe hy vir Hillcrest en Roses United in Wellington begin speel het. Sy talent as vleuel het hom laat opkyk na bekende rugbyspelers soos Cornall Hendricks en Alshaun Bock. Een van sy afrigters, Reggie Manuel, het hom gereeld aangemoedig en hom laat glo dat hy dit op die groot verhoog kan maak.

Sy pad na professionele rugby was egter nie maklik nie. Hy het gesukkel met werk en geld en moes vrugte en groente verkoop en as ’n taxiwag werk om skool toe te kom. Die ondersteuning van sy ma, Leticia van der Westhuizen, en sy geliefde ouma, Lily Maart, het hom deur moeilike tye gedra. Hul woorde van wysheid en motivering het ’n groot rol in sy deursettingsvermoë gespeel.

Ná sy tyd in die Springbok 7’s-groep was hy op pad om klubrugby in Georgia te speel. Sy ma het egter sterk gevoel dat hy moes wag op ’n geleentheid in Suid-Afrika. Kort daarna het Pieter Bergh, Griquas se afrigter en self ’n Wellingtonner, hom genader om by die Griquas aan te sluit.

Dylon het in 2021 ’n deurbraakjaar gehad toe hy as Curriebeker- eersteliga- Speler van die Jaar aangewys is terwyl hy vir Boland Kavaliers gespeel het. Sy talent het nie ongesiens verbygegaan nie en hy het sy deurbraak in sy vierde wedstryd vir Griquas teen die Pumas in Nelspruit gemaak. Daarna het hy in drie wedstryde die toekenning as beste agterspeler verwerf.

In sy sewe wedstryde het Dylon gewys hy weet waar die doellyn is deur vier drieë te druk – twee teen die Blou Bulle, een teen Westelike Provinsie en een teen die Sharks. Hierdie indrukwekkende vertonings het die aandag van John Dobson, afrigter van die DHL Stormers, getrek. Nou is Dylon een van sewe spelers wat op ’n uitleenbasis by die Stormers-groep aansluit, met die oog op die komende Verenigde Rugbykampioenskap.

Op 30-jarige ouderdom speel Dylon Maart van sy beste rugby. Sy storie van deursettingsvermoë en harde werk is ’n ware inspirasie vir enigeen wat motivering soek.

You need to be Logged In to leave a comment.