Jy wat nie sondes het nie, gooi die eerste klip.

Hierdie vrylike Bybelse aanhaling het die afgelope tyd swaar by my kom spook. Ek wil glo dat daar ander godsdienstige affiliasies is wat ook na hierdie aanhaling verwys en dit in die besinning en beoefening daarvan probeer nastreef of uitleef in die praktyk. Vanwaar dan nou my spook van êrens af?

Ek het die voorreg gehad om die hartverskeurende maar ook hoopvolle storie van iemand neer te pen. Dit is die storie van volslae dwelmafhanklikheid. Dis ’n storie wat tot ’n groot mate die werklikheid weerspieël wat op ‘n daaglikse basis in ons provinsie en in ons land afspeel. Die seerkry (dalk) iewers in die verlede…of dalk nie. Dalk was dit blote groepsdruk. Die redes kan legio wees – die eerste poging om te eksperimenteer met ’n “onskuldige” soort dwelm om die wortel van die seer en pyn te verdoof; die web wat vorm aanneem en al wyer en wyer uitkring. In my mens se storie was dit ’n pynlike seer wat op ’n baie vroeë ouderdom ’n permanente letsel gelaat het.

Rehabilitasie het die antwoord geword toe die probleem heeltemal handuit geruk het. En toe die opstaan-en-val-episodes; in en uit rehabilitasiesentrums; die vieslike kloue van die dwelmverslawing wat net erger en erger raak – tot so ’n mate dat dié mens se biologiese familie nie eens meer kans sien om daar te wees nie. Die rimpeleffek van die verslawing het my mens uiteindelik tot ’n bestaan op straat uitgelewer. Dalk ’n aalmoes van iemand wat die hart het om ietsie te ete met my mens te deel. Dis ook hier waar die geveg om oorlewing sy brutale koue gesig begin wys. Alles sal gedoen en ingespan word om die volgende “fix” in die hande te kry.

My mens se storie lees soos ’n riller-rolprent. Dis asof ek die Ellen Pakkies-fliek van voor af sien. Met die lees van my mens se storie word ek opnuut bewus van die soveel kere in die verlede dat ek myself wysgemaak het dat die probleem ’n harde werklikheid in ons samelewing is, maar dat ek darem nie nodig het om direk betrokke te raak nie. Dis helaas mos ’n keuse wat iemand vir hom- of haarself geneem het. My mens se storie het finaal hierdie siening van my op sy kop kom draai. Ek kan of wil nie meer stilbly nie, want iewers in die anale van my eie geskiedenis het ek ook eens die hartseer en seermaakkloue van alkoholisme aan huis ervaar – moes my tienerseun toe aanskou hoe die monster net nie wil weggaan nie, en hoe die stille gebede van ’n ma die anker moes bly vir haar gesin om te oorleef.

Statistieke nasionaal kleur die prentjie van dwelmverslawing nog meer somber in. Gauteng en die Wes-Kaap neem die voortou. My bronne wat ek opslaan om hierdie samelewings problematiek beter te verstaan, bevestig ’n paar harde werklikhede. Die beskikbaarheid van dwelms, familiegeskiedenis met dwelms, armoede, werkloosheid, negatiewe invloed en die gebrek aan ouerleiding is van die faktore wat daartoe bydra dat ons huidige prentjie so duister daarna uitsien. Nog ’n duidelike aanwyser is dat die hartseer van dwelmverslawing aan enige deur kan klop. Dit het absoluut geen respek of voorkeur aan ras, geslag, ouderdom, godsdienstige affiliasie, sosiale status, rykdom of armoede nie. Dit het net een eenvoudige agenda, en dit is om iemand te vernietig en in die proses so veel as moontlik skade aan te rig en bestaande verhoudings te laat verbrokkel. Dit wil dorpe, gemeenskappe en provinsies afbreek totdat byna niks oorbly nie.

Ons hoef nie nog ’n debat te voer oor of ons provinsie, gemeenskappe en gesinne ’n krisis in die gesig staar nie – nee, want die krisis is reeds hier. Ons almal ken iemand wat iemand ken wat in die kloue van dwelmverslawing vasgevang is. Dis my en jou reaksie op die krisis wat nou meer as ooit tevore saakmaak. Ons kan nie meer wegkyk en maak asof die probleem nie bestaan nie of dat dit nie jou gesin of familie se probleem is nie. Die ironie is – of dit jou direk raak of nie, die probleem word uiteindelik ons almal se probleem. Ons kan of mag nie meer stilbly hieroor nie, want my hart bloei vir die gemeenskap waar ons jongmense wat in die web van dwelmverslawing vasgevang is, nog ’n keer sinnelose skade by die plaaslike kerk aangerig het waar die groente en ander apparate, wat die nood van die armes sou verlig, geroof en geplunder is. En ons mense ly honger.

Die kompleksiteit van die uitdaging is massief. Ons kan nie meer net die vinger na sekeres in die gemeenskap wys nie. Die oplossing, glo ek, moet omvattend van aard wees. Dit vra vir ’n deernisvolle dog ferm benadering as ons enigsins die oorlog teen hierdie euwel in ons gemeenskappe wil hokslaan. Ek weier om ná my mens se storie ooit weer die ander pad te kyk, want . . .

Jy wat nie sondes het nie, gooi die eerste klip.

You need to be Logged In to leave a comment.