’n Bewaarder by die Drakenstein-gevangenis is vroeër vandeesmaand betrap toe hy dwelms en ’n selfoon by die gevangenis ingesmokkel het. Die inhegtenisneming volg ’n jaar nadat ’n bewaarder van dieselfde gevangenis ook met dwelms en selfone betrap is.

Volgens ’n betroubare bron by dié gevangenis is die 48-jarige bewaarder, wat op 6 Augustus vasgetrek is, ’n hondemeester by die tronk. Gerugte doen al ’n geruime tyd die ronde oor onwettige goedere wat by die gevangenis ingesmokkel word, en ’n verrassingsbesoek en deursoeking is gehou. Die bewaarder het ook by die maksimumsekuriteit-afdeling gewerk, waar die gevaarlikste misdadigers aangehou word.

“Ons het inligting gehad dat hy dwelms gaan inbring en het ’n verrassingsdeursoeking die oggend gehou. Toe hy omstreeks 07:15 aan diens kom, het die gevangenis se noodondersteuningspan die man eenkant toe in ’n vertrek geneem en hom deurgesoek. Hy het in sy onderbroek by sy bene sakke gehad wat dagga, tik en ’n selfoon bevat het. Lede van die noodondersteuningspan het die sakke voor die man oopgemaak en hy het op daardie tydstip erken dat dit (die dwelms en selfoon) aan hom behoort. Hy het nie veel van ’n keuse gehad nie, want hoe beland goed in jou onderbroek en jy sê dit is nie joune nie? Hy is deur die Paarl-polisie in hegtenis geneem.”

Teen druktyd het kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, nog geen verdere terugvoer verskaf op navrae in verband met die bewaarder se inhegtenisneming nie.. Twee bewaarders van Drakenstein is verlede jaar op 11 Julie ook in hegtenis geneem nadat die tronkhoof en lede van die tronk se taakspan die voertuie van beamptes dié spesifieke oggend deursoek het. Die voertuig waarin twee bewaarders – ’n man en ’n vrou – gery het, is omstreeks 06:50 voorgekeer en deurgesoek.

Du Plessis het destyds bevestig 158 heel Mandrax-tablette, 82 halwe Mandrax-tablette, vyf sakke tik asook 71 klein sakkies tik, een sak dagga en verskeie selfone is in hul voertuig gevind.

Albei lede is weens die dwelms en selfone aangekla, maar die man het intussen na vore gekom en erken sy vroulike kollega het nie van die onwettige goedere in die voertuig geweet nie.

“Hy het basies gesê toe sy by hom in die kar geklim het, het sy niks by haar gehad nie. Sy wou weet hoekom sy ook aangekla is, want sy is net ’n passasier. Sy is verduidelik totdat dit bevestig word aan wie die dwelms behoort het, sal albei wat in die kar was, aangekla word. Die manlike bewaarder het ’n beëdigde verklaring afgelê waarin hy sê sy ry elke dag saam met hom werk toe en toe hy haar die spesifieke oggend opgelaai het, het sy niks (dwelms of selfone) by haar gehad nie. Die saak teen haar is op grond daarvan laat vaar.”

Die man is intussen uit sy werk ontslaan nadat die Departement van Korrektiewe Dienste sy ondersoek afgehandel het. Die hofsaak sloer nog en kan nie voortgaan nie omdat die toksikologiese verslag van die dwelms, waarvoor die polisie verantwoordelik is, ná meer as ’n jaar nog nie gereed is nie.

“Iets wat ’n kwessie is, is dat al twee bewaarders (die een van verlede jaar en die een wat onlangs in hegtenis geneem is) albei by die maksimumsekuriteit-sentrum by die Drakenstein-gevangenis gewerk het. Dit is ondenkbaar dat bewaarders dink hulle kan sulke goed by dié afdeling, waar van die heel gevaarlikste gevangenes is, inbring. Jy kan jou net indink die baie groot gedeelte van die gevangenis ‘behoort’ aan verskillende bendes, en wanneer hierdie ouens bedwelmd is, maak dit hulle net soveel meer vatbaar vir geweld teenoor ander gevangenes, maar ook teenoor bewaarders.”. A warden at Drakenstein Prison was caught smuggling drugs and a cellphone into the prison earlier this month. His arrest comes a year after a warden of the same prison was also caught.

You need to be Logged In to leave a comment.