’n Ma van ’n gr. 4-leerling aan die Orleansvale Primary School in die Paarl ly nog aan skok nadat ’n dwaalkoeël haar dogter in die kop getref het.
Die voorval het Saterdag kort ná 16:00 by hul opslaanhuis in die plakkerskamp New Beginnings by Chicago in Paarl-Oos plaasgevind.
Die leerling, Wheesa Fortuin (11), het glo by hul opslaanhuis se voordeur gestaan toe die koeël haar in die agterkant van haar kop tref.
Die Paarl-ambulansdiens is na die toneel ontbied. Sy is na die Paarl-hospitaal geneem, maar is dieselfde dag na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.
Wheesa is die volgende dag uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by haar ouerhuis aan.
Volgens haar ma, Wilma, kon dokters nie die koeël verwyder nie omdat dit glo te gevaarlik is.
“Ek kan net die Here dankie sê dat my kind nog leef,” sê sy.
Die polisie in Paarl-Oos ondersoek ’n saak van poging tot moord. Enigiemand met inligting oor die voorval kan die polisiekantoor by 021 877 5900 bel.
Daar was die res van die naweek ’n sterk polisieteenwoordigheid in die gebied nadat verskeie bendeverwante voorvalle aangemeld is.
Die gebied gaan sedert 2015 gebuk onder bendegeweld en daar word byna elke naweek klagte van moord, poging tot moord, aanranding of openbare geweld by die Paarl-Oos-polisiestasie ingedien.
* Vroeër vanjaar is ’n inwoner van die woonbuurt Chicago ook deur ’n dwaalkoeël in Klipbokstraat in haar arm getref, terwyl sy besig was om wasgoed buite haar huis op te hang.