Aristo Krüger is vanjaar as die duxleerder van die Hoër Landbouskool Boland aangewys en ontvang ’n beurs van die Universiteit Stellenbosch wat sy studie aan die fakulteit agriwetenskappe sal dek. Hy staan eerste in sy graad met ’n gemiddelde van 92%. Hy behaal ook eerste klasposisie in Afrikaans, Engels, lewensweten­skappe, fisiese wetenskappe en landbouweten­skappe. “Ek is ’n plattelandse seun wat op ’n plaas grootgeword het en ek het al op ’n jong ouderdom besef dat landbou die rigting is waarin ek ’n verskil wil maak. Ek wil volgende jaar BSc Agric Plantkunde studeer en dan in genetika spesialiseer. Solank mense op aarde is, wil hulle eet en ek wil graag die voedselsekerheid verbeter. By Boland Landbou is my liefde vir die landbou goed afgerond en het ek hier ’n duidelike visie vir my toekoms gekweek,” vertel hy.