Duwayne Adams (17), ’n gr. 11-leerder aan die Noorder Paarl Hoërskool, is hierdie maand Paarl Post se hoërskool-sportster van die maand.


Die talentvolle Duwayne Adams (17), ’n graad 11-leerder aan die Noorder Paarl Hoërskool is Paarl Post se hoërskool-sportster van die maand nadat hy uitgeblink het as baanfietsryer en sy Suid-Afrikaanse kleure in dié sport verwerf het.

Duwayne, wat in die Paarl op ’n plaas saam met sy ouers en ouer broer woon, vertel dat hulle ’n baie hegte gesin is wat altyd mekaar bystaan.

Sy liefde vir sport is ook juis eerstehands gekweek in sy ouerhuis, waar al die lede van die gesin aktief aan sport deelneem, waaronder netbal, rugby en natuurlik fietsry.

Volgens Duwayne was hy 11 jaar oud en ’n leerder aan Ronwe Primêre Skool in die Paarl toe hy begin het om fiets te ry. Hy vertel dat hy vir die eerste keer in 2018 aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem en dit voltooi het.

“Ek het eers ná die grendeltydperk baie op die baan begin fiets ry en ek het besef ek het ’n talent daarvoor.”

Duwayne het kort ná grendeltyd aan sy eerste Wes-Kaap-kampioenskap deelgeneem waar hy twee silwer- en een bronsmedalje gewen het.

Daarna het hy aan die gewilde Boxing Day-fietsrykompetisie in die Paarl deelgeneem waar hy die Keirin-baanfietsry-afdeling gewen het.

Vanjaar het Duwayne die geleentheid gekry om aan die Suid-Afrikaanse Fietsrykampioenskap deel te neem.

“By die Suid-Afrikaanse Fietsrykampioenskap in Kaapstad in April vanjaar het ek weer ’n goue medalje vir my deelname in die Keirin-baanfietsry-item gewen,” vertel Duwayne.

Volgens hom het dié resies ook sy plek by die Afrika-fietsrykampioenskap in Nigerië bespreek. Dié kampioenskap is in Julie gehou. Hier het hy twee goue medaljes gewen – een vir die beste sprint en een vir sy eerste plek in die Keirin-baanfietsry-item.

Duwayne meen egter dat weens die verwagtinge van Keirin-baanfietsry en die dissipline wat gehandhaaf moet word om op dié vlak van fietsry deel te neem, is daar geen tyd vir hom om aan ander sportsoorte deel te neem nie.

“Ek moes kies tussen rugby en fietsry en ek dink ek het ’n goeie keuse gemaak.”

Duwayne is ook pligsgetrou aan sy sport en elke middag nadat die skoolklok lui, is hy weer op sy fiets aan die oefen.

Een van Duwayne se grootste helde is sy afrigter Elrick Kulsen.

Uncle Ricky sal altyd daardie ekstra bietjie moeite vir my doen en help in enige opsig. Hy sal ook altyd vir my sê wanneer ek eendag bo uitkom, moet ek nooit vergeet waarvandaan ek kom nie.”

Ná matriek beoog Duwayne om sy liefde vir Keirin-baanfietsry na nuwe hoogtes te neem en verder aan wedrenne oor die wêreld heen deel te neem.

“Ek wil ook kinders help om bo hul omstandighede uit te styg.”

Volgens Duwayne is een van sy grootste doelwitte om aan die Olimpiese Spele deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.