’n Groot deel van Drakenstein se inwoners is afhanklik van die plaaslike ekonomie om brood op die tafel te sit. Een van die plaaslike sakeondernemings is Boland Waste in Wellington, wat sedert 2005 nie net werk skep nie, maar ook ’n belangrike rol in die doeltreffende bestuur van afval en herwinbare items vervul.
Boland Waste is egter een van vele ondernemings waarvan werkers afleggings in die gesig staar sou Eskom en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) voortgaan met hul planne om kragtariewe so vroeg as April aanstaande jaar met bykans 40% te verhoog.
Nersa het onlangs Eskom se aansoek om sowat R429 miljard uit kragtariewe in die volgende boekjaar in te samel, vir openbare kommentaar gepubliseer.
Die spesifieke tariewe wat verskillende groepe verbruikers sal betaal, sal eers later bereken word, maar dit is duidelik dat die meeste Eskom-kliënte van 1 April 2025 ’n volle 36% meer sal moet opdok om hul ligte aan te hou, sou Nersa Eskom se aansoek om ’n verhoging goedkeur.
Eskom vra ook R481 miljard vir die 2026-’27-boekjaar en R537 miljard vir die jaar daarna.
Dit sal tot verdere verhogings van onderskeidelik sowat 12% en 9,1% lei.
Vir Boland Waste, wat reeds sukkel om kop bo watter te hou weens die Drakenstein-munisipaliteit se hoë tariewe, is hierdie voorgestelde verhoging soos ’n “mes teen die keel”, sê Nico van Zyl, die stigter en eienaar, vandeesweek.
Boland Waste voorsien werk aan 30 mense, hoofsaaklik van Wellington, en is grootliks afhanklik van krag om sy swaar masjinerie aan die gang te hou.
“Een van ons grootste uitgawes is elektrisiteit.
“Selfs voordat ons kan begin krag gebruik, word ons al met só ’n helse heffing geslaan dat dit omtrent twee werkers se minimumloon-salaris absorbeer.
“Hierdie heffings is maar ’n kopseer, selfs vir dié wat alternatiewe kragopwekking soos sonpanele gebruik. Hierdie heffings beteken basies dat jy ’n sekere bedrag moet betaal om bloot die krag te kry, daarna kom jou gebruik eers by,” sê Van Zyl.
Volgens hom sal Boland Waste nie die verhoging kan bekostig nie.
“Krag is ons lewe hier. Geen krag, geen herwinning.
“Ek dink vir groter maatskappye is dit makliker om sulke uitdagings te hanteer, maar ons kleiner ondernemings sukkel maar.
“Ons moet elke dag ons sente omdraai om seker te maak ons oorleef.
“Hierdie verhoging waarvan hulle praat, is regtig nie goeie nuus vir ons nie, of vir enige kleiner onderneming nie.
“Ons sukkel al klaar met die huidige tariewe. Daar is nie ’n manier hoe ons enigsins winsgewend gaan wees indien hierdie verhoging wel plaasvind nie,” sê Van Zyl.
Stephen Korabie, die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, het onlangs ’n betoging na die munisipaliteit se hoofgebou in die Paarl gelei, waar ’n memorandum aan die stadsbestuurder oorhandig is waarin die munisipaliteit vra dat Eskom en Nersa oor die verhoging moet herbesin.
In die memorandum, wat dr. Johan Leibbrandt ontvang en onderteken het, eis die munisipaliteit dat Eskom die voorgestelde verhoging laat vaar.
“Huishoudings met ’n lae inkomste gaan sukkel om vir hul dienste te betaal en dit gaan lei tot ’n toename in skuld en die ontkoppeling van dienste.
“Die verhoging plaas druk op ondernemings en dit kan tot moontlike werksverliese lei. Dit is nadelig vir ekonomiese groei,” lui die memorandum.
Die memorandum maak verder melding van maatskaplike onrus, voedselsekerheid en dat die munisipaliteit dan gaan sukkel om dienste te lewer.
Die munisipaliteit stel verder voor dat Eskom alternatiewe kragopwekking oorweeg, maatreëls instel om energieverbruik te verminder, en laer-inkomste-huishoudings subsidieer.
Die stadsbestuurder is gevra om die memorandum aan die betrokke rolspelers te stuur en hulle is 14 dae gegee om op die besware te reageer.
Intussen sê David Frost van die Paarl-belastingbetalersvereniging “enige verhoging so ver bo die inflasiekerf (CPIX) is verregaande en behoort nie toegelaat te word nie”.
“Die saak word vererger deur die kwessie van staatskaping en wanbestuur by Eskom, wat grootliks bygedra het tot die huidige behoefte aan groot kapitaalbedrae, wat nou van die spreekwoordelike kontantkoei – die belastingbetaler en verbruiker – verhaal moet word,” sê Frost.
“Die groot vraag wat gaan ontstaan is wat gaan die Drakenstein-munisipaliteit doen as die verhoging goedgekeur word? Gaan die totale verhoging met ’n aanpassing van Drakenstein [se begroting] net so aan die verbruiker oorgedra word? Wat het hulle die afgelope paar jaar met sodanige verhogings gedoen?
“Ons wil ook sien dat die Drakenstein-munisipaliteit saam met die ander munisipaliteite in die provinsie en die Stad Kaapstad sy stem dik maak om die saak te beveg,” sê Frost.