Brandbestryders spook steeds om ‘n wegholbrand wat Maandag in die Du Toitskloofberge uitgebreek het, in bedwang te bring.
Meer as 1000ha is reeds in die brand verwoes, terwyl die herehuis op die Calais-landgoed ook in puin gelê is.
Dit is in die stadium nog onseker hoeveel strukture beskadig is, maar geen lewensverliese is tot dusver aangemeld nie.
Meer as 200 brandbestryders, 18 brandweervoertuie, twee weermag-helikopters en twee helikopters van die vrywilligersorganisasie Werk met Vuur, is ingespan om die brande te bestry.
Luidens ‘n verklaring van die Hawekwa voorval-bestuurspan is die brand steeds nie onder beheer gebring nie en hulpbronne is tot die uiterste gerek.
Sterk wind het vanoggend brandbestryders se taak bemoeilik en die vlamme vinnig laat versprei.
Inwoners van die Daljosafat en Bosbou-plaasgebied wat vroegoggend hul huise moes ontruim, word tans in Daljosafat Primêr se skoolsaal, asook ‘n saal by Salem Boerdery in Klein Drakenstein, gehuisves.
Met Paarl Post se besoek aan die skool, het talle mense nog gesit en wag om te hoor of hulle na hul huise kan terugkeer.
Intusssen het die gemeenskap hul harte oopgemaak om skenkings in te samel vir brandbestryders en mense wat deur die brand geaffekteer is.
Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.