’n Intellektueel gestremde vrou (23) is in Oktober na bewering wreed in Paarl-Oos verkrag, en nou veg die drukgroep Action Society vir geregtigheid om te seëvier.
Die voorval het volgens die vrou op 12 Oktober plaasgevind.
Die voorval het plaasgevind slegs weke nadat die vermoorde Tamia Botha einde September vermis geraak het. Die vierjarige se lewelose liggaam is ’n dag later op die perseel van ’n naby geleë skool gevind.
Die jong vrou se verkragter is aan haar bekend. Hoewel die saak ’n dag ná die voorval by die polisie aangemeld is, is die verdagte na bewering nooit in hegtenis geneem nie en die slagoffer wag nou nog vir ’n saaknommer.
Leandra Matthee, ’n proporsionele raadslid vir die Drakenstein-munisipaliteit, sê die verdagte teister nou glo die slagoffer. “Getuies is ook te bang om na vore te kom,” sê sy.
“Die verdagte treiter steeds die vrou, en niks word gedoen nie. Ons het al vir die polisie gesê hy dreig haar nou en probeer vir haar boodskappe stuur om te sê sy moenie ’n saak maak nie.
“Die gedagte is dat hy wil nou laat blyk sy het toestemming gegee, maar lawfully is dit nie reg dat sy kan toestemming gee nie.
“Ek het met haar gewerk, so ek weet presies wat haar gestremdheid behels en ek weet ook dat sy nie ’n keuse kan maak tussen wat reg en verkeerd is nie.
“Die polisie het ’n afspraak gekry by Cape Mental Health om haar te laat assesseer en ’n verslag te gee vir die polisie of die hof dat sy regtig intellektueel gestremd is. Die assessering is eers volgende jaar Augustus. Nou sit ons met die vraag van as die assessering eers volgende jaar in Augustus gedoen word, wanneer gaan die saak hof toe?”
Kaylynn Palm, ’n woordvoerder van Action Society, sê hulle het met die slagoffer gepraat en ’n mandaat van haar familie gekry om die proses rakende die saak te ondersteun.
“Action Society het met die polisie kontak gemaak en dit is bevestig dat ’n saak geopen is. Die familie het egter nog nie die saaknommer ontvang nie.
“Ons doen ons uiterste bes om die verdagte en haar gesin by te staan. Voorvalle van hierdie aard is onaanvaarbaar.
“Ons kan nie toelaat dat die verdagte wegkom nie, want môre teiken hy ’n ander slagoffer.”
- A 23-year-old woman with an intellectual disability was allegedly brutally raped in Paarl East in October this year, and now Action Society is fighting for justice to be done.