Terwyl daar hard gespook word om die eertydse spuitfontein op die hoek van Piet Retiefstraat en Blouvleiweg in Wellington met ’n splinternuwe, watervriendelike fontein te vervang, het dit oor die afgelope maande verander in ’n groot, kaal en niksseggende plaveisel.
“Op die oomblik is die stuk plaveisel bloot ’n monument ter ere van die langste en kwaaiste droogte wat hierdie dorp in baie jare getref het,” het een van die lede van die komitee wat gemoeid is met planne om ’n nuwe fontein op die terrein op te rig, die afgelope week spottenderwys gesê.
Die gesloer om die ou fontein met ’n nuwe een te vervang kan volgens Charl Tomlinson, voorsitter van die komitee wat die nuwe fontein moet laat ontwerp en oprig, direk aan die droogte toegeskryf word. In hierdie stadium is alle fonteine en water-fokuspunte in Drakenstein weens die waterkrisis afgeskakel.
Daar word, volgens Tomlinson, egter steeds kliphard gewerk aan planne om ’n splinternuwe fontein op dieselfde terrein op te rig.
Dit sal ’n watervriendelike, niespuitende fontein wees. Slegs lopende water sal oor plat klippe na onder plons waar dit deur ’n rooster verdwyn om weer gesirkuleer te word. Lowergroen plantegroei sal weerskante van die nuwe fontein geplant word en sal bestaan uit variëteite wat toegang tot die water ontmoedig.
Op aanbeveling van die kontrakteur wat die nuwe fontein uiteindelik sal oprig, is dit beter om eers die hele gebied te plavei. Die plaveisel sal verwyder word soos en wanneer bome geplant word.
Die skoongemaakte area kon egter nie so gelaat word met die oog op die hopelik komende winterreëns nie. Sodra daar finaal sekerheid is oor die fontein se grootte en posisie, gaan ’n gedetailleerde tuinuitlegplan opgetrek word.
Tomlinson het ook gesê dat die fonteinkomitee op inisiatief van die Wellington-forum ontstaan het. Dit is saamgestel uit amptenare van die parke- en ingenieursdepartemente, en afgevaardigdes van die verfraaiingskomitee, erfeniskomitee en publiek via die forum.
Drie raadslede dien ex officio op die komitee. Daar word maandeliks verslag gedoen by elke Wellington-forumvergadering die eerste Vrydag van die maand in die Wellington-raadsaal.
Die forum bestaan uit verskeie raadslede, amptenare en ’n handjievol belangstellende inwoners.
Daar behoort, volgens die komitee, ’n veel groter deelname aan hierdie besprekinge deur Wellingtonse inwoners te wees.
Die komitee het ook beklemtoon dat, hoewel die vordering met die nuwe fontein oënskynlik onnodig sloer, alles onder beheer is.