Robert Riedel van Wellington wie tereg staan op ’n aanklag van aanranding en ook in hegtenis geneem is vir dronkbestuur, maar later vrygelaat is nadat hy twee motoriste op die R44 aangerand het, se hofsaak is uitgestel tot 6 Mei.
Riedel het vandag (10 Februarie) in die Paarl-landdroshof vir sy pleitooreenkoms voorgekom waarna die saak uitgestel is omdat sy regsverteenwoordiger onvoorbereid opgedaag het.
Dit is volgens die Paarl-landdroshof asook een van die klaers in die saak.
Riedel is op die aand van 8 November deur die Paarl-polisie in hegtenis geneem nadat hy na bewering twee ander motoriste wat hom op die R44 verbygesteek het met ’n sambok bygedam en pimpel en pers geslaan het.
Dit was volgens vorige kommunikasie met kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie.
Volgens die twee motoriste en tans klaers in die saak teen Riedel wie anoniem wil bly om die onderneming waarvoor hulle werk se reputasie te beskerm, het hulle op 8 November met ’n werkvoertuig op die R44 in Wellington se rigting gery, sowat vyf kilometer van die N1-brug, toe hulle drie voertuie voor hulle gewaar het wat “stadig” gery het.
Volgens hulle wou hulle die motors, wat sowat 80 km/h in ’n 100 km/h-sone gery het, verbysteek.
Nadat die bestuurder sy flikkerlig aangeskakel het om die voertuie verby te steek, het die voertuig wat Riedel bestuur het, met die handelsnaam Crystal Direct, ’n maatskappy in die Strand wat glasware en kristalglase verkoop, voor die anonieme motoriste ingeswaai, wat hulle gedwing het om agter hom in te draai.
Die anonieme motoriste beweer dat Riedel toe begin “brieke trap” het, waarna die motoriste sonder om dit met ’n flikkerlig aan te kondig die voertuig verbygesteek het in ’n poging om hom onkant te betrap.
Riedel het toe volgens die motoriste op hul werkvoertuig afgejaag, totdat hulle afgedraai het op die Perdebergpad naby aan hul werkperseel net ná die Windmeul-kelder.
Hier het die twee motoriste asook Riedel uit hul voertuie geklim waarna hy vir hulle met ’n sambok bygedam het na ’n woordewisseling ontstaan het.
Die passasier het dit toe reggekry om Riedel se motorsleutel uit sy motor te gryp.
Hierna het die bestuurder uit hul voertuig geklim, waarna Riedel hom ook met die sambok bygedam het. Die passasier kon wel die sambok uit Riedel se hand ruk en het dit in hul voertuig toegesluit.
Volgens hulle het Riedel hulle daarna probeer paai en gevra dat hulle die voorval moet “los”.
Hy wou ook weet of hy hulle kon “vergoed”, sodat hy nie strafregtelik vervolg sou kon word nie.
Hulle het egter reeds die polisie ontbied.
Toe die polisie op die toneel opdaag, het hulle vir Riedel gevra om huis toe te ry, wat hy wel gedoen het.
Hy het egter twee keer teruggekeer na die toneel terwyl die polisie besig was om die twee motoriste se verklarings te neem, waarna hulle Riedel vir dronkbestuur in hegtenis geneem het.
Riedel wou by tydens ’n vorige navraag nie oor die aangeleentheid kommentaar lewer nie. Die Paarl Post se pogings om weer na hom uit te reik was onsuksesvol.
Die Paarl Post verstaan ook dat Riedel nie meer werksaam is by Crystal Direct nie.