Afvalbestuur het ’n groot uitdaging geword – nie net in die Drakenstein nie, maar in die hele land asook baie wêreldlande.
Dit sluit in om die volhoubare verwerking van afval deurlopend te verseker. Ook die bestuur van die toenemende tendens van dromkrappers, oftewel informele herwinnaars.
En in woonbuurte en dies meer in die hele vallei bly dromkrappers ’n ernstige probleem. Talle klagtes word van gefrustreerde inwoners ontvang oor dromkrappers wat oral mors met hul “herwinningsaktiwiteite” wat nou ook deur die munisipaliteit ondersteun word.
Conrad Poole, die burgemeester, het dit vandeesweek duidelik gestel dat die munisipaliteit nie dromkrappers ondersteun wat vullissakke oopruk, steel of verwyder om herwinbare materiaal uit te haal nie.
“Sulke optredes en diegene wat hulle daaraan skuldig maak, sal deur ons wetstoepassingsafdeling vasgevat word,” het Poole gesê.
“Ons het ’n verordening ingestel wat sal verseker dat hulle in hegtenis geneem en voor die munisipale hof gedaag word.
“Ons ondersteun wel diegene wat daartoe verbind is om materiaal op ’n ordelike manier uit vullis te herwin om ’n bestaan te voer. As ’n verantwoordelike munisipaliteit het ons besluit om deur middel van ’n geformaliseerde projek struktuur aan dromkrappers te gee. Uit ’n humanitêre oogpunt gesien is dit mense wat in moeilike ekonomiese tye innoverende en ordelike metodes vind om ’n inkomste vir hul gesinne te skep. Hulle verdien ons steun,” sê Poole.
Hy sê die afgelope paar jaar het die munisipaliteit verskillende projekte en programme van stapel gestuur om hierdie uitdagings die hoof te bied.
Die munisipaliteit se jongste afvalbestuursinisiatief is die Trolley Waste Picker-projek.
Volgens die munisipaliteit is dit algemene praktyk dat dromkrappers (of informele herwinnaars) in woonbuurte en sakegebiede rondbeweeg om herwinbare materiaal te versamel uit vullisdromme, wat inwoners op sypaadjies laat sodat die munisipaliteit die vullis kan kom oplaai.
Hierdie afval-herwinnaars is deel van die informele herwinningsbedryf.
Na raming maak tussen 60 000 en 100 000 afval-herwinnaars in Suid-Afrika ’n bestaan uit die herwinning van afval. Dus word afval nie meer as bloot afval beskou nie, maar eerder as ’n kommoditeit met waarde.
Die munisipaliteit beraam verder dat 120 tot 150 informele herwinnaars in die sentrale sakekern en woonbuurte in Paarl en Wellington van drom tot drom rondloop.
Die munisipaliteit skakel tans met ’n groep van hulle en sal poog om hulle toe te rus met wettige trollies, sakke, weerkaatsbaadjies en ander persoonlike beskermende toerusting terwyl hulle saam met die Suid-Afrikaanse plastiek-herwinningsmaatskappy (Petco) werk. Die munisipaliteit het ook die insette van die polisie en plaaslike private veiligheidsmaatskappye vir hierdie projek verkry.
Hierdie amptelike herwinnaars sal ook amptelike identifikasiekaarte kry. Dit sal inwoners help om hulle te herken en die versekering te gee dat hulle deel van ’n amptelike munisipale projek is.
“Hierdie trollie-afvalherwinnaars dra by tot die oplossing van die groter uitdaging vir afvalbestuur deur te herwin en uiteindelik waardevolle stortingsruimte te bespaar. Ons wil ’n volhoubare inkomste vir hulle in ’n ordelike omgewing verseker sowel as ’n meer waardige lewe,” sê Poole.
Altesaam 30 “afvalpreneurs” baat reeds by die munisipaliteit se program vir soliede afval by die Paarl-oordragstasie. Hulle verdien ongeveer R1 000 meer per week as voorheen. Die munisipaliteit bied aan hulle herwinbare materiaal uit vullisverwydering wat die “afvalpreneurs” dan sorteer en aan private ondernemings verkoop. Hulle herwin ongeveer 100 ton vullis per maand.
Vir meer inligting oor hierdie projekte kan die munisipaliteit by 080 131 3553 tolvry gekontak word.
. Ná ’n jare lange vertraging van die opening van die munisipale hof in die Paarl sou die hof uiteindelik op 1 Desember amptelik geopen word, maar nog vertragings het opgeduik en die hof is steeds nie oop nie.


