Inwoners voel die situasie van vuil buurte gaan nou deur herwinnings-entrepreneurs vererger word terwyl die munisipaliteit probeer om dromkrappers amptelike herwinner-status te gee.


Die Drakenstein-munisipaliteit het ’n projek van stapel gestuur om “dromkrappers” in wettige herwinningsentrepreneurs om te skep, maar dit is sonder ’n openbaredeelnameproses gedoen.

Die doel van die projek is om die straat-trollie-mense te bestuur en daardeur te poog om hulle ook in die vasteafvalpraktyk te integreer.

Buurtwagte in Noorder- en Suider-Paarl sê egter hulle is nie in die saak geken nie en is in beginsel daarteen gekant.

Gemeenskapsleiers in verskeie wyke meen die munisipaliteit het nie die vermoë of wilskrag om informele herwinners te reguleer nie.

Vrae wat ontstaan, is: . Hoe wil die DM die herwinningsprogram reguleer? . Hoe gaan ongeregistreerde herwinners beheer en in sekere buurte belet word? . Het die DM personeel beskikbaar om in elke woonbuurt op elke vullisverwyderingsdag te patrolleer?

Ander bekommernisse wat uitgespreek is, is dromkrappers wat oop en bloot in buurte onder mekaar baklei omdat hierdie haweloses ’n geweldige oorlewingstryd met mekaar voer.

Ook, hierdie informele herwinners bemors woonbuurte en strate waar hulle vullis sit en uitsorteer. Inwoners voel die situasie van vuil buurte gaan nou deur herwinningsentrepreneurs vererger word.

“Dit bemoeilik die taak van buurtwagte, veiligheidsmaatskappye en die polisie om te onderskei tussen gesteelde of stukkende toestelle. Dit is die rede waarom sommige buurtwagte trollies verbied,” het een buurtwagbestuurder in Suider-Paarl gesê.

Volgens buurtwagte is ’n groot hoeveelheid trollie-herwinners ook by ongerymdhede en diefstal betrokke.

’n Ander bekommernis is die groot toestroming van informele herwinners wat saam met hulle maatskaplike probleme na woonbuurte bring. Vloek- en skeltaal asook geweld speel soms in woonbuurte af wanneer informele herwinners oor die vullis baklei, wat ’n negatiewe impak op kinders in buurte het.

Is huisafval die eiendom van die huiseienaar of die DM? Die DM koop nie die afval nie en lewer bloot ’n verwyderingsdiens, waarvoor belastingbetalers betaal. Huisbewoners moet ook ’n sê in die saak hê, sê hulle.

Gerald Esau, die direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit het die afgelope vier jaar en ses maande die voormalige onwettige herwinners op die Wellington-stortingsterrein suksesvol en volhoubaar in die vasteafval­bestuurs­praktyk geïntegreer. Hy het gesê hierdie “Wastepreneurs”, wat voor 2018 die spreekwoordelik “klippie in die skoen” vir daaglikse gebruikers van die stortingsterrein was, werk steeds vir hulself, doen herwinning en verdien ’n eerbare inkomste met die hulp van die DM en die publiek, wat hul deel doen vir die omgewing deur al hul herwinningsmateriaal in een sak te plaas sodat die DM dit kan afhaal en gratis by die Wastepreneurs by die Paarl-oorlaaistasie kan aflewer.

Sedert die begin van 2022 is die DM se vasteafvalbestuurspan besig met ’n soortgelyke projek om die “straat-trollie-mense” te bestuur en daardeur te probeer om hulle ook by die vasteafvalpraktyk te integreer.

Die “straat-trollie-mense” is ook soos in die geval van die Wastepreneurs ongestruktureer en ongereguleer. Die DM poog met die projek om hierdie entiteit te reguleer en daarin te slaag om hulle ook volhoubaar te maak.

Esau se kommunikasiedeelname met die publiek, die polisie en veiligheidsmaatskappye is reeds afgehandel.

’n Databank met die foto en naam van die Wastepreneurs word opgestel en hulle sal van vullissakke voorsien word. Die sakke sal deur dié mense met herwinbare materiaal gevul en deur die DM verwyder word.

Esau sê verder weeklikse opvoedingsessies en gesprekke met die entrepreneurs is maar een van die strategieë om die projek suksesvol, volhoubaar en in harmonie te laat slaag.

* The municipality’s Wastepreneurs project, which empowers bin-scratchers to legally recycle materials from the public’s rubbish bins, has been received with mixed emotions.

You need to be Logged In to leave a comment.