Die vinnige reaksie van die Paarl-polisie in samewerking met private sekuriteit het uiteindelik tot die inhegtenisneming van drie rowers gelei.
Die rowers het op Dinsdag (14 Mei) die Sterns-juwelierswinkel in Lady Greystraat in die Paarl beroof.
Vier rowers het die winkel omstreeks 09:30 binnegestorm en die personeel met ’n vuurwapen gedreig, het kapt. Louise du Plessis, ’n polisiewoordvoerder in die Paarl, by navraag gesê.
“Die personeel is vasgebind en in ’n kamer ingedwing, waarna die verdagtes ’n onbekende aantal selfone en juweliersware gesteel het.
“Een verdagte het te voet van die toneel gevlug en is deur ’n veiligheidswag in Derksenstraat aangekeer.”
Volgens Du Plessis het nog twee verdagtes in ’n blou Chevrolet gevlug en is hulle deur die polisie agternagesit.
Hulle is later in die Hillside-woonbuurt in Paarl-Oos aangekeer.
Al drie verdagtes word aangehou, het Du Plessis bevestig.
Die vierde rower word nog deur die polisie gesoek.
Die Sterns-juwelierswinkel is een van talle winkels in Lady Greystraat wat gereeld onder rooftogte, hoofsaaklik gewapen, deurloop.
Paarl Post het in November verlede jaar berig dat daar binne twee maande meer as sewe rooftogte in die Paarl se sentrale sakegebied plaasgevind het.
Du Plessis het by ’n vorige navraag aan die koerant gesê sakeondernemings in die middedorp word geteiken weens ’n gebrek aan veiligheidsmaatreëls en veiligheidskameras.
Leon Bester, voorsitter van die Paarl-Wes-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het intussen gesê hoewel die GPF in samewerking met die polisie en buurtwag verskeie operasies in die middedorp uitvoer, gaan dit net doeltreffend wees as die eienaars van sakeondernemings ook betrokke raak.
“In hierdie stadium sukkel ons om sakeondernemings by die GPF betrokke te kry.
“Hulle sal baie baat daarby vind om vergaderings by te woon om sodoende bewus te wees van ons operasies.
“Ons kan byvoorbeeld nie buurtwaglede stuur om by winkels te patrolleer sonder die wete van die eienaar nie. Samewerking van hul kant af is dus noodsaaklik.”
Volgens Bester is die GPF, in samewerking met die polisie en ander veiligheidsorganisasies, konstant besig om verdagte aktiwiteite en voertuie deur middel van LPR-kameras oor die vallei heen te monitor.
Hy het bygevoeg dat hierdie kameras, wat voertuie se registrasienommers identifiseer, baie nuttig is om veral georganiseerde misdaad hok te slaan.