Die Paarlse sakevrou Ilde Meyer is pas aangewys as die Suid-Afrikaanse raad vir sakevroue (SACBW) se Kaapse Wynlande- Sakevrou van die Jaar.
Die SACBW is daarop gemik om sakevroue uit alle oorde en oor die land heen te bemagtig, bymekaar te bring en by te staan.
Ilde, oorspronklik van Gauteng, het in ’n familie grootgeword waar sake deel van die daaglikse lewe was. Haar ouma het vir meer as 60 jaar ’n trou-onderneming bedryf, en dit was hier dat Ilde die waarde van harde werk en onafhanklikheid geleer het.
“My ouma het altyd gesê jy moet nooit van ander afhanklik wees nie. Jy moet jou eie pad stap en ’n sakeonderneming bou rondom dit wat jou gelukkig maak,” sê sy.
Ná haar hoërskooldae by die Hoërskool Hoogland het sy in 2000 somatologie aan Centurion Akademie begin studeer. Gou het sy besef dit is nie haar ware passie nie.
Ilde het toe by Cargo Carriers begin werk, waar sy haar natuurlike talent vir verkope en bemarking ontdek het en verder in hierdie rigting gaan studeer.
Hierna het Ilde se loopbaan haar na verskeie terreine geneem, onder meer die advertensiebedryf, waar sy in televerkope begin het. Sy het vinnig gevorder en ’n kantoor bestuur, nuwe bemarkers aangestel en opgelei.
Ná haar egskeiding in 2014 het sy na die Kaap verhuis, waar sy die geleentheid gekry het om dier Boland Showcase te bemark. Drie jaar later het sy die onderneming met die hulp van haar boekhouer gekoop. Só het Paarl Pals ontstaan, wat vandag ’n sterk gemeenskapsbasis met sowat53 000 volgelinge het.
Vandag werk Ilde saam met groot kettingwinkels in die Kaapse Wynland, en haar liefde vir sosiale media stel haar in staat om sakeondernemings in kleiner dorpe te help groei. Sy dien ook in die bestuur van die Drakenstein Sakekamer en is trots om deel van die SACBW te wees, waar sy vroue ondersteun om hul eie ondernemings te vestig en suksesvol te bestuur. Sy sê: “Ek help graag vroue om met selfvertroue te werk – veral op die gebied van sosialemediabemarking.”
hulpbronne gedeel
Die Boland Showcase het oor die afgelope 10 jaar ’n noodsaaklike platform geword vir ondernemings in die streek, terwyl Paarl Pals sy sewende verjaardag gevier het. Hierdie gemeenskapsgroep bied ’n veilige ruimte vir inwoners om inligting en hulpbronne te deel. Die twee platforms het nie net ondernemings gehelp om te groei nie, maar ook gemeenskapsbande versterk deur netwerkgeleenthede en samewerking.
Ilde is daagliks betrokke by hierdie projekte en streef daarna om nuwe tegnologie en benaderings te gebruik om gemeenskapsbetrokkenheid te verhoog.
sakevrou van die jaar
Die erkenning as SACBW Kaapse Wynlande- Sakevrou van die Jaar het Ilde diep geraak. “Dit gee erkenning aan die harde werk en toewyding wat ek in my onderneming gestort het,” sê sy. Sy gee krediet aan almal wat haar ondersteun het – familie, vriende en haar span. “Ek hoop om ander vroue te inspireer om hul drome te volg en nooit op te gee nie, al voel die pad soms moeilik.”
mentorskap
Ilde streef daarna om vroue te bemagtig deur mentorskap en sosiale media. Sy deel graag stories van sukses om ander aan te moedig en wil meer geleenthede organiseer om plaaslike vroulike entrepreneurs te ondersteun. “Ek wil help om gelykheid en diversiteit in die sakewêreld te bevorder, en vroue inspireer om leiers op hul terrein te wees.”
Met haar inisiatiewe help sy daagliks om die gemeenskap en die ondernemings in die Paarl te laat groei en te ondersteun, met die droom om elke vrou te inspireer om haar volle potensiaal te bereik.
“Vir elke vrou met ’n droom: Jou drome is waardevol. Moenie toelaat dat vrees of struikelblokke jou verlam nie. Al voel die pad moeilik – elke stap wat jy neem, bring jou nader aan jou doelwitte. Staan op as jy val en probeer weer. Jou stem is uniek, en die wêreld het jou nodig.”
Saam met Ilde het Mariaan Cronje van The Caregivers Counselas opkommende ster van die jaar uitgeblink asook Marizaan Bredenkamp van Hope for Youth SA NPO.