Drie onderwysers van die Paarl is die afgelope naweek by die Wes-Kaapse Provinsiale Onderrig-prysuitdelings­geselligheid vereer vir die uitmuntende werk wat hulle by die onderskeie skole lewer waar hulle in diens staan.

David Maynier, die Wes-Kaapse LUR van onderwys, het na afloop van die prysuitdeling gesê: “Hierdie toekennings gee ons die geleentheid om die ongelooflike werk wat onderwysers elke dag in ons openbare skole doen, te vier. Hierdie onderwysers streef onverpoosd na uitnemendheid, en hul passie vir die verbetering van leeruitkomste is duidelik vir almal om te sien. Dit is wonderlik om te sien hoe ons onderwysers ’n blywende uitwerking op die lewe van leerders in die Wes-Kaap maak.”

Lalindei “Lilly” Botha van die Laer Meisieskool La Rochelle het weggestap met die prys vir uitnemendheid in tegnologie (verbeterde onderrig en leer). ’n Gedeelte van die motivering van die WKOD vir haar benoeming lui as volg: “Lilly se reis as ’n opvoeder word gekenmerk deur haar passie, vindingrykheid en borrelende persoonlikheid, wat deur haar werk en interaksies resoneer. As vrou, ma en opvoeder het sy ’n diverse reeks leerders van graad vier tot graad sewe onderrig, wat alle vakke dek met ’n spesiale fokus op tegnologie en kodering en robotika reg deur die skool vanaf graad R.”


Die toekenning beteken baie vir Botha, veral met al die harde werk wat sy by haar leerders inploeg.
“Ek voel dit is ’n vreeslike groot eer en ek is geweldig trots om my provinsie, die Kaapse Wynlande, die Paarl en die Laer Meisieskool te verteenwoordig. Hierdie geleentheid gryp ek met twee hande aan en ek sien geweldig uit. Wat ’n seëning.”

Nóg ’n trotse oomblik vir die Paarl is die benoeming van Irma Mentoor van die Ligstraal Skool vir Gestremdes. Sy het weggestap met die skoolleierskapprys vir uitnemendheid in spesiale behoeftes.

Die WKOD meen sy is ’n besonderse leier in die skool wat sy lei. “Sy is ’n lewenslange leerder wat sterk glo daaraan om ’n samewerkende atmosfeer binne die skool te kweek. Sy toon uitsonderlike toewyding en innovering in haar rol as skoolleier. Sy glo daarin om samewerking tussen verskeie belanghebbendes te bevorder, en dit sluit onder andere ouers, personeel en die gemeenskap in.”

Vir Mentoor is dit ’n besonderse trotse oomblik in haar lewe om met dié prys vereer te word.

“Ek is baie trots en baie dankbaar vir die erkenning vir die werk wat ons in ons skole doen. Dit is ’n groot voorreg om ’n toekenning op provinsiale vlak te ontvang. Dit wys watter goeie werk ek en my personeel vir ons spesiale leerders doen en dit sal ons net verder motiveer om aan te hou om die beste geleenthede vir ons leerders te skep.”

Die dorp pronk ook met die Kader Asmal- lewenslange prestasie-prys wat aan Derek Swart, die hoof van die Hoër Jongenskool Paarl, toegeken is. Die WKOD beskryf hom as iemand met visioenêre leierskap en onwrikbare toewyding. “Mnr. Swart is al langer as twee dekades aan die stuur van die Hoër Jongenskool Paarl en lei met ’n duidelike visie en ’n onwrikbare verbintenis tot akademiese uitnemendheid. Sy leierskapstyl word gekenmerk deur inklusiwiteit, integriteit en ’n meedoënlose strewe na uitnemendheid. Onder sy leiding het die skool deurgaans uitstaande akademiese resultate behaal en ’n reputasie behou as een van die toppresterende skole in die land.”



Die toekenning is ’n riem onder die hart vir Swart, en die erkenning vir sy jare lange diens maak al die opofferinge deur die jare heen die moeite werd.





“Dit was met nederige dankbaarheid teenoor die Liewe Vader dat ek die nuus ontvang het. Dis goed om te weet jou werkgewer heg waarde aan dit wat vermag is met ure se werk, min slaap, laat nagte en baie kreatiewe denke.

“ ’n Spesiale woord van dank ook aan die Paarl Post vir al die jare se positiewe beriggewing,” het Swart bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.