Twee motorfietsongelukke die afgelope naweek in die Franschhoekpas het drie motorfietsryers elk in ‘n kritieke toestand gelaat, insluitend een wat ongeveer 100 m deur die lug geslinger is voordat hy in die kloof beland het, waar hy later met ‘n helikopter gered is.
Die twee motorfietsongelukke het onderskeidelik die afgelope Vrydag (23Mei) omstreeks 17:00 en Sondag (25 Mei) om 11:00 gebeur.
Volgens Kurt Maske, ‘n ER24-werker wat op albei tonele was, het reddings- werkers ongeveer die afgelope Sondag drie ure lank onverpoos gewerk om die motorfietsryer, wat alleen op sy motorfiets deur die pas gery het, uit die kloof te red.
Maske het verduidelik dat die motorfietsryer in die rigting van Franschhoek gery het toe hy naby Jan Joubert’s Gat beheer daaroor verloor het en sowat 100 m deur die lug geslinger is voordat hy in die kloof te lande gekom het.
‘n Lid van die publiek, wat die ongeluk sien gebeur het, was sonder enige selfoonsein in die pas genoop om tot by ‘n punt te ry waar daar ontvangs was voordat Maske en sy span ingelig is.
Nadat Maske-hulle daar aangekom het, het hulle teen die kranse afgeseil tot waar die motorfietsryer gelê het. Hulle het hom daar gestabiliseer.
‘n Helikopter van Air Mercy Services (AMS) is toe ontbied om die motorfietsryer uit die pas te lig sodat hy in ‘n ambulans geplaas kon word wat hom na ‘n hospitaal sou neem.
Volgens Maske sterk die motorfietsryer goed aan.
Die metro-ambulansdienste, asook Franschhoek First Responders, ‘n vrywilliger-organisasie wat hulp verleen gedurende mediese noodgevalle, was tydens die voorval teenwoordig.
Die afgelope Vrydag se motorfiets- ongeluk het ‘n klipgooi van die Haute Cabrière-wynplaas gebeur toe ‘n motorfietsryer teen ‘n minibussie gebots het.
Die motorfiets het ‘n passasier agterop gehad.
Altesaam agt insittendes was in die minibus en almal is ongedeerd, hoewel die twee mense op die motorfiets
ernstige tot kritieke beserings opgedoen het.
Volgens Maske gebeur al meer motorfietsongelukke in die pas al meer gereeld – veral in die somermaande.
“Hier was in ‘n stadium elke Sondag ‘n ongeluk,” het hy gesê.
Hy skryf dit nie toe aan dronkbestuur nie, maar eerder spoedvrate of diegene wat om draaie in die aankomende verkeer se baan inswaai, waarna hulle of beheer oor hul motorfiets verloor of teen ‘n ander voertuig bots.
Die Franschhoek-polisie het die twee motorfietsongelukke aan Paarl Post bevestig.


