Drie studente aan die Frank Pietersen-musieksentrum (FPMS) in die Paarl het onlangs die vallei trots gemaak toe hulle deel was van die Suid-Afrikaanse Musiekbeurskompetisie.
Die kompetisie is aangebied deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en het in Pretoria plaasgevind.
Die drie is Matthew Lamprecht (gr. 10; Hoër Jongenskool Paarl), Vialli Mocke (gr. 11; die Hoërskool Gimnasium Paarl) en Kyrah Adams (gr. 12; doe Hoërskool Gimnasium Paarl). Hulle neem van kleins af al vioollesse by dié plaaslike musieksentrum – Vialli en Kyrah onder die leiding van Hadley Duminy en Matthew Lamprecht by Inge Wittenberg. Hulle speel ook van jongs af saam in verskeie strykensembles.
Wat hulle drie se deelname aan die onlangse kompetisie so wonderlik maak, is dat hulle deel is van 10 kandidate wat spesifiek gekies is.
“Hulle moes bo 85% vir hul gr. 8- Unisa-eksamen kry en ’n spesiale uitnodiging ontvang om aan die kompetisie deel te neem. Slegs tien nasionale toppresteerders word genooi om deel te neem, en FPMS is dus baie bevoorreg om drie van hierdie tien kandidate te kon voorsien. Dit is selfs in die prysuitdeling se verwelkoming genoem,” het Inge Wittenberg, FPMS se waarnemende skoolhoof, met trots gesê.
“Verder is Kyrah Adams as die beste opkomende kunstenaar by hierdie kompetisie aangewys. Kyrah neem ook slagwerklesse by FPMS, neem gereeld aan verskeie kompetisies deel en is ’n lid van die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes.
“Al het die ligte in die middel van sy optrede uitgedoof, het Matthew Lamprecht volhard en die algeheel tweede prys gewen, asook ’n prys vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse komposisie.
“Matthew, wat 92% vir sy gr. 8-eksamen behaal het, is verder ook ’n talentvolle fluit- en klavierspeler en neem lesse by FPMS en die Hoër Jongenskool Paarl onderskeidelik. Hy dien ook as konsertmeester van die Stellenbosch-jeugorkes.
“Vialli Mocke lewer gereeld solo- optredes by FPMS en was ’n lid van die Kaapstad Filharmoniese Jeugorkes. Sy het 92% vir haar Unisa-gr. 8- eksamen behaal.”
Al drie die jong musikante het ’n sertifikaat van deelname ontvang.
Wittenberg kan nie uitgepraat raak oor hoe trots almal op die drietjies nie en hul “wonderlike prestasies” is nie.
Vaughan Pietersen, wat onlangs as FPMS se skoolhoof afgetree het, het ook sy mening oor die drie se prestasies gelewer. “Aangesien ek as voormalige prinsipaal die ontwikkeling van die drie leerders oor die jare waargeneem het, was dit ’n trotse oomblik om hulle aan die kompetisie te sien deelneem. Dit is inderdaad ’n hoogtepunt in die ontwikkeling van die Frank Pietersen-musieksentrum.”
Die drie jong musikante het op hul beurt ook ’n paar woorde oor hul deelname aan die kompetisie gedeel.
Vialli sê: “Dit was vir my ’n goeie ondervinding om na ander musikante te luister en met hulle te kommunikeer.”
Kyrah is op haar beurt van mening dat die kompetisie vir hulle al drie ’n groot uitdaging was. “Dit was, in wese, ’n positiewe ervaring om saam te woon en die geleentheid te hê om almal se optredes te sien. Ek het vir die eerste keer as violis aan ’n kompetisie deelgeneem en ek is bly dat ek daardie ervaring nou ook in die sak het. Ek is baie bly dat ek die geleentheid met Matthew en Vialli kon deel – dit was genotvol.”
Matthew stem saam en sê die kompetisie was ’n groot plesier – veral om dit saam met sy vriende aan sy sy aan te pak. “Ons ken mekaar al jare, en in mekaar se geselskap het die tyd in Pretoria verbygevlieg – amper soos ’n vakansie!
“Ek glo dat ons deur na mekaar se spel te luister en mekaar aan te moedig, mekaar gehelp het om die optimale ingesteldheid voor ons onderskeie optredes te bereik. Ek is baie dankbaar dat ons drie die geleentheid gehad het om hierdie uitdaging as ’n groep, saam met ons onderskeie onderwysers, aan te pak.”