Teen die einde van 2021 het die Paarl-Oos-gemeenskap drie gerespekteerde onderwysers gegroet. Hulle het altesaam 120 jaar diens in die onderwysbedryf.

Sheron Wyngaard en Karel Cupido het albei by Klein Nederburg Sekondêre Skool skoolgehou. Cupido sê hy hoop hy het leerders akademies goed toegerus om in hul loopbane uit te styg, en hulle genoeg beïnvloed om ’n goeie bydrae tot ’n beter samelewing te lewer.

Nadat hy sy tersiêre opleiding aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi het, het Cupido 37 jaar gelede by die skool aangesluit.

Hy was sedert sy beginjare tot en met sy aftrede by die skool.

Hy het hoofsaaklik Afrikaans as huistaal aangebied en was die afgelope vier jaar adjunk-hoof.

Vir Wyngaard is onderwys nie ’n werk nie, maar ’n edele roeping. Met 40 jaar se ondervinding in dié bedryf moedig sy jonger onderwysers aan om elke leerder tot sukses te lei. “Pak jou taak aan met toewyding. Onthou dat elke leerder uniek is en dat jy as onderwyser die sleutel tot die leerder se sukses is. Ons werk met die kosbaarste besittings van ons gemeenskap – die jeug; ons toekoms.”

Melville Lawrence was in sy loopbaan van 43 jaar in die onderwys 18 jaar lank die adjunkhoof van William Lloyd Primêr. Die afgelope agt jaar was hy die skoolhoof van Nederburg Primêr. “Ná soveel jare in die onderwys word die leerders en die ouergemeenskap deel van jou daaglikse interaksie. Iets wat ek egter sal mis, is die opgewondenheid in die leerders – veral dié in die grondslagfase – wanneer hulle soggens skool toe kom; ook om die blydskap op hul gesigte te sien wanneer hulle vir hul werk en vordering gekomplimenteer word.”

Al drie afgetrede onderwysers stem saam dat hulle nou baie tyd op hande sal hê. Dus het hulle nou baie tyd om aandag te skenk aan hul stokperdjies en alles waarvoor hulle nie regtig tyd gehad het nie.

  • By the end of 2021, the Paarl East community had greeted three respected teachers. They have a total of 120 years of service in the education industry.

You need to be Logged In to leave a comment.