Nóg drie brande wat hierdie week in Paarl-Oos uitgebreek het, het tientalle gesinne dakloos gelaat. Hoewel geen lewensverlies in die onlangse voorvalle voorgekom het nie, raak die brande wat week ná week uitbreek, ’n bekommernis vir inwoners.
Die Drakenstein-munisipaliteit se brandweer het hom Saterdagmiddag (21 Oktober) na ’n brand in Chicago gehaas nadat hy om 16:42 oor strukture wat vlamgevat het, ingelig is.
Volgens Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, is vyf strukture in die brand verwoes en 32 mense is geraak.
Inwoners beweer twee kinders het met vuur gespeel toe die informele wonings begin brand het. Dit kon egter nie bevestig word nie.
Die brand in Chicago volg kort nadat drie gesinslede in dieselfde woongebied Dinsdagoggend (17 Oktober) in ’n brand gesterf het. Nog iemand is ook in ’n afsonderlike brand verlede Saterdag (14 Oktober) in die Lovers Lane- informele nedersetting dood.
Dinsdagmiddag (24 Oktober) het ’n brand sowat 27 mense dakloos gelaat toe sewe informele wonings in Amstelhof in puin gelê is. ’n Inwoner op die toneel, wat nie by name genoem wil word nie, meen die manier hoe die brand geblus is, is nie doeltreffend nie.
“Hulle het nie ’n metode hoe hulle die brand blus nie. Hulle beveg die brand van een kant af en aan die ander kant brand die strukture nog meer en die brand versprei. Ek dink nie hulle kom met ’n plan in as hulle na informele nedersettings toe kom om brande te blus nie.”
Die plaaslike brandweerdienste was op die toneel en is deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdienste en die Drakenstein-plaaswag bygestaan.
Brandweerspanne moes hulle Woensdagoggend ook na Amstelhof haas toe ’n brand in Suikerbekkiestraat by ’n huis uitgebreek het.
Volgens Esau het ’n huis dié keer in die slag gebly en vier mense is geraak. Die brand is deur die plaaslike brandweerdienste geblus.