Die Paarlse
drankreus, KWV, is die jongste slagoffer van diefstal nadat die staat van
inperking alkoholverkope verbied het.
KWV se
uitvoerende hoof, Boyce Lloyd, het gesê ‘n vragmotor met 20 000 bottels
KWV-wyn wat onderweg was na die Kaapse hawe vir uitvoer, het Donderdagaand
verdwyn.
Lloyd het
verder gesê nadat verligting aan die wynbedryf gebring is om uitvoere weer toe
te laat, het KWV begin om staande bestellings te versend.
Donderdag
is 15 vragte wyn vanaf KWV na die hawe gestuur, maar die laaste besending, wat
om 17:30 die perseel verlaat het, het nooit by sy bestemming uitgekom nie.
“Die
vervoeragent het Vrydagoggend vir ons in kennis gestel dat die vragmotor en sy
vrag verdwyn het. Later die oggend het die polisie ons in kennis gestel dat die
leë vragmotor tussen Strandfontein en Mitchellsplein gevind is.
“Die
vragmotorbestuurder is hierna by sy huis in hegtenis geneem.”
Die wyn wat
in die vragmotor was, was Roodeberg en Classis Collection wat vir die Sweedse
mark bestem was.
Altesaam 21
mense is die afgelope naweek in hegtenis geneem in verband met 16 inbrake by
drankwinkels in die Wes-Kaap.