Jamie-Lee Morkel, ’n gr. 12-leerder van Bergrivier Sekondêre Skool, het ’n goue sertifikaat vir toneelspel verwerf vir die hoofrol by die ATKV-Tienertoneel se streekseindronde die afgelope naweek in Durban­ville.

Bergrivier Sekondêr se verhoogstuk, Dis ek, Annatjie, is verwerk en geredigeer deur Alma Nel van Wellington.

Die skool se dramagroep, wat deur die Organisation for Research and Training SA Cape ondersteun word, het ook goud vir kostuums, ’n silwer vir regie en ensemble-spel verwerf.

Afgesien van verskeie bronstoekennings wat die toneelstuk gekry het vir toneelspel en tegniese aspekte, verwerf Bevedine Dullman ook ’n silwersertifikaat vir toneelspel in die rol van Lena, die beste vriendin van Annatjie.

Dis die derde jaar dat dié skool aan die landwye ATKV Tienertoneelkompetisie deelneem.

Verlede jaar is die groep as streekswenners aangewys by die streekseindronde in Port Elizabeth.

Bergrivier se dramagroep is een van 16 uit 200 skole wat deurgedring het tot die nasionale ronde van die ATKV Tienertoneel by die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom.

Die sukses van die naskoolse projekte hang grotendeels af van mense se bydraes en borgskappe.

Nader gerus Sanet Taljaard, die Wellington-koördineerder, vir meer inligting by sanettaljaard@yahoo.com.

You need to be Logged In to leave a comment.