’n Groep werkers by die Drakenstein-munisipaliteit se afvalwatersuiweringsaanleg in die Paarl eis antwoorde oor hoekom daar nou al vir bykans vyf jaar ’n agterstand is in die uitbetaling van hul oortydgeld.
Die werkers beweer ook dat daar nooit skriftelik aan hulle gekommunikeer is dat hulle slegs vir vier ure se werk van hul agt-ure-skof op Sondae betaal gaan word nie.
Paarl Post het vandeesweek ’n brief bekom wat in Mei 2023 deur die betrokke werkers aan dr. Johan Leibbrandt, Drakenstein se stadsbestuurder, gerig is.
In die brief word Leibbrandt verwittig oor die kwessie van uitstaande oortyd en dat geen skriftelike ooreenkoms aangegaan is nie.
Die werkers verduidelik dat hulle in skofte verdeel is van 07:00-15:00, 15:00-23:00 en dan 23:00-07:00.
“Ons diensooreenkoms maak egter nie melding van hierdie rooster nie en dus word ons beskou as vyfdagwerkers.
“Ons werk sowat 56 uur per week vir sewe dae. Naweke en vakansiedae se werk word beskou as normale werksdae. Boonop word ons net vir vier uit die agt ure wat ons op Sondae werk, betaal,” lui die brief.
Die werkers het verder verduidelik dat daar ook ’n tekort aan personeel by die aanleg is.
“Weens ons skofte en die beperkte hoeveelheid personeellede word ons oortyd as ‘te veel’ deur ons seniors bestempel en gevolglik word ons oortyd slegs elke derde maand uitbetaal.
“Daar is tye dat ons tot vyf maande wag dat dit betaal word,” sê die werkers in die brief.
Louis Pienaar, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het vandeesweek by navraag gesê die werkers se ingediende grief is “deeglik ondersoek” deur die relevante munisipale afdelings, asook hul verteenwoordiger, die werkersunie Imatu.
“Op 25 Julie 2024 is hul grief hanteer ingevolge die griefprosedure en daar is bevind dat die werkers nie benadeel is wat hul diensvoorwaardes en kontrakte betref nie. Dit is ook so aan die werkers op die vergadering verduidelik,” het Pienaar gesê.
Die werkers sê egter niks het sedertdien verander nie luidens ’n brief wat op 6 September verlede jaar aan die stadsbestuurder gerig is.
“Sedert ons vorige brief is die probleem omtrent ons oortyd steeds nie opgelos nie.
“Ons het hernude ooreenkomste op 27 Junie in die teenwoordigheid van ons unieverteenwoordigers onderteken.
“Ingevolge hierdie ooreenkoms moet ons vir Saterdag tyd x 1,5 betaal word en vir Sondae en vakansiedae x 2. Ons sukkel nou al die afgelope vier jaar om hierdie opgelos te kry,” lui die tweede brief.
Die werkers het intussen die kwessie na die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) verwys.
“Dit is belangrike werk wat ons hier verrig. Hierdie aanleg moet aan die gang gehou en goed bestuur word. Ons vra net dat ons regverdig behandel moet word,” het een werker vandeesweek aan Paarl Post gesê.
Die munisipaliteit het intussen gesê daar is geen agterstand wat betref die algemene uitbetaling van oortyd nie.
Hy sê die ongeouditeerde syfer vir oortydbetalings vir die 2023-’24-boek jaar was R55 245 847.