Ná ’n lang stryd met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) asook die verkryging van ’n hofbevel deur die hooggeregshof, het Cogta nou uiteindelik ten gunste van die Drakenstein-munisipaliteit beslis om dr. Johan Leibbrandt, stadsbestuurder, se termyn tot minste ná die uitkoms van die plaaslike verkiesing van 2026 te verleng.
Dié onthulling is verlede week op ’n raadsvergadering deur Stephen Korabie, Drakenstein se uitvoerende burgemeester, gemaak.
Leibbrandt se termyn het in 2022 verstryk nadat hy die amp van 2017 beklee het.
Sy pos is in daardie stadium toe wel geadverteer, maar vroeg in die aanstellingsproses het die munisipale raad eenparig besluit dat hy nog vyf jaar verdien.
Cogta het die aansoek afgekeur en die munisipaliteit is ses maande vergunning gegee om ’n nuwe munisipale bestuurder aan te wys.
Die munisipaliteit het die besluit egter teengestaan en ’n tussentydse hofbevel deur die hooggeregshof in Kaapstad bekom dat Leibbrandt mag voortgaan om sy taak te verrig.
Volgens Korabie was die aanstelling onderhewig aan goedkeuring deur Nkosazana Dlamini-Zuma, die destydse Cogta-minister.
“Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het die aanstelling op 28 Februarie 2022 slegs tot 31 Augustus 2022 goedgekeur.
“Die munisipale raad het besluit om hierdie besluit te betwis en het aansoek gedoen om die minister se besluit te laat hersien en tersyde te stel.
“Op 22 Augustus 2022 het die Kaapse hooggeregshof ’n tussentydse interdik toegestaan wat dr. Leibbrandt toegelaat het om in sy pos te bly totdat die finale hofbevel gemaak is,” het Korabie verlede week gesê.
Volgens Korabie sou die hooggeregshof die saak in Augustus verlede jaar aanhoor, maar voor die verhoor het Cogta die munisipaliteit se regspan genader en ingestem om die saak te skik eerder as om dit te betwis.
“Die ooreengekome hofbevel is finaal gemaak en maak voorsiening daarvoor dat dr. Leibbrandt kan aanhou dien as stadsbestuurder tot die uitslag van die volgende plaaslikeregeringsverkiesing.
“Ek verwelkom die ooreengekome hofbevel en ek is dankbaar vir die leierskap van minister Velenkosini Hlabisa, die nuutaangestelde Cogta-minister.
“Die Drakenstein-munisipaliteit het onder die leierskap van die stadsbestuurder bestendigheid gelewer en homself bewys as die toonaangewende sekondêre stad in die land.
“Hierdie finale hofbevel sal uitnemendheid in finansiële bestuur, goeie regering en dienslewering verseker tot die volgende plaaslikeregeringsverkiesing.
“Ek wens die stadsbestuurder alle voorspoed vir die res van sy termyn toe,” het Korabie op die raadsvergadering gesê.