Die Drakenstein-munisipaliteit het inwoners in aanloop tot die feestyd en warmer somerseisoen daaraan herinner dat swem in die Bergrivier nie aangemoedig word nie en op eie risiko geskied.
Dit volg nadat Paarl Post navraag gedoen het oor tydelike toilette wat onlangs langs die rivier in die Paarl opgerig is, asook oor die veiligheidsmaatreëls wat hierdie somer van krag is.
Die munisipaliteit het bevestig dat hy wel die toilette daar geplaas het.
Hy sê die doel hiervan is om voorsiening te maak vir gesinne en besoekers wat gedurende die Kerstyd graag die buitelug en rivierbanke wil geniet.
“Hierdie geriewe is op plekke geplaas waar hoë besoekersgetalle verwag word. Die voorsiening van toilette vorm deel van Drakenstein se somerseisoen-veilig- heidsplan, wat van 1 Desember 2025 tot 31 Januarie 2026 in werking is.
“Die plan fokus op die bevordering van veiligheid, die handhawing van munisipale verordeninge en die bestuur van groot openbare ruimtes tydens die vakansietyd,” het Saul Jacobs, die munisipaliteit se hoof van wetstoepassing en veiligheid, by navraag gesê.
Volgens Jacobs sal wetstoepassingsbeamptes in die somer sigbaar en aktief wees.
“Hulle sal veral op munisipale geriewe en gebiede met hoë voetverkeer fokus om onwettige aktiwiteite te voorkom en verordeningsoortredings die hoof te bied. Hul werk strek verder tot die voorkoming van ernstige misdrywe, insluitend aanranding, roof, seksuele misdrywe en dwelm- of alkoholverwante oortredings.”
Volgens Jacobs sal die Bergrivier gereeld gepatrolleer word en voertuigkontrolepunte sal ingestel word as deel van die breër veiligheidsoptrede.
“Die polisie, verkeersdepartement, brandweer, private veiligheidsmaatskappye, buurtwagte, ambulansdienste en gemeenskapspolisiëringsforums werk saam in hierdie poging.”
Jacobs het aangevoer hoewel swem in die Bergrivier nie verbied is nie, “beklemtoon die Drakenstein-munisipaliteit dat veiligheid nie gewaarborg kan word nie”.
“Ouers word veral aangeraai om kinders noukeurig dop te hou wanneer hulle die rivier besoek. Die publiek word verder versoek om kennisgewingsborde en pamflette te gehoorsaam en om
van die bykomende toilette wat voorsien is, gebruik te maak.”
Skakel die munisipaliteit se beheerkamer by 021 807 8508 om enige veilig- heidsprobleme of onwettige aktiwiteite aan te meld.
Paarl Post het in die afgelope vyf jaar alleen oor minstens vyf afsonderlike verdrinkings in die Bergrivier in die Paarl berig.
Hierdie syfer is waarskynlik hoër, aangesien die media nie oor alle gevalle berig nie.
Benewens die noodlottige verdrinking van die knap Paarlse rugbyspeler Trevor Maarman (22) in Januarie verlede jaar, was daar onder andere die geval van ‘n 60-jarige man wat in Desember 2021 naby die Arboretum verdwyn en later in die rivier gevind is.
LEES: Geliefde rugbyspeler verdrink in Bergrivier in die Paarl
In 2022 is oor twee afsonderlike verdrinkings in ‘n kort tydperk berig, terwyl ‘n man se lyk in die somer van 2022-’23 in die rivier aangetref is nadat hy na bewering laat die aand gaan swem het.


