Drakenstein-munisipaliteit en ingenieurskundiges monitor die dam in die Bo Dal-gebied.Foto: Drakenstein-munisipaliteit


Die Drakenstein-munisipaliteit het Vrydagmiddag (12 Julie) inwoners van Newton in Wellington gemaan om nog nie na hul wonings terug te keer nie nadat hulle vroeër hierdie week noodgedwonge die gebied moes verlaat.

Dit kom nadat die oewers van ’n dam op ’n plaas in die Bo Dal-gebied, naby Newton, gedreig het om te bars. In hul nuutste kommunikasie sê die munisipaliteit die watervlakke by die dam is onveranderd en vra hulle dat inwoners wat vrywillig hul huise verlaat het nog nie moet terugkeer nie.

“Dié oproep kom in die lig van ’n reeks koue fronte wat voorspel word om die naweek oor die Wes-Kaap te beweeg en swaar reën te bring ná ’n week van koue fronte wat reeds die grond versadig het, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).

“Ongeveer 900 huishoudings het sedert Dinsdagaand (9 Julie) vrywillig hul huise in Newton ontruim, veral die gedeelte tussen Jan van Riebeeckrylaan en die Bo-Dalpad, en woon tans by familielede en vriende.

“Na aanleiding van die advies van ingenieurskundiges en damspesialiste, en in voortdurende kontak met die eienaar van die plaasdam van 150 000 m³ meter in die Bo-Dal-omgewing, raai die munisipaliteit inwoners aan om liewer weg te bly van die gebied in belang van hul eie en hul gesinne se veiligheid. Lede van die munisipaliteit se ingenieursdienste-afdeling monitor ook gereeld die dam se watervlak.

“Die SAWD het ’n oranje vlak 6-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën (meer reënval en moontlik donderbuie en ligte hael) vir die suidwestelike dele van die Wes-Kaap, met swaarder reënbuie wat Saterdag tot Sondag vir die suidelike dele van die munisipaliteite Drakenstein, Witzenberg en Stellenbosch voorspel word. Oor die 48 uur word reënval van 60-100 mm in bergagtige gebiede verwag.”

Die munisipaliteit sê hy monitor die situasie deurlopend en sal inwoners op hoogte hou en oor die pad vorentoe adviseer. Intussen word patrollies in Newton deur die plaaslike brandweer en ook wetstoepassing gedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.