Die Drakenstein-munisipaliteit het die optrede van sowat 40 mense, wat onlangs ‘n stuk munisipale grond in Simondium probeer beset het, ten sterkste veroordeel.
Die grond, wat naby die Simondium Primêre Skool geleë is, is geoormerk vir ‘n behuisingsprojek ter waarde van R77 miljoen, wat na verwagting 384 wooneenhede sal lewer.
Die projek is in September 2023 bekendgestel, maar vertraag weens pro- bleme met die omgewingsimpakstudie wat terug na die provinsie verwys is.
Paarl Post verstaan dat die nabygeleë Simondium-begraafplaas glo in die omgewingsimpakstudie as ‘n erfenisteken geïdentifiseer is en die infrastruktuur wat met die behuisingsprojek verband hou, nie enige graf mag versteur nie.
Die munisipaliteit moes op 29 April sy wetstoepassers na die gebied ontplooi toe die groep inwoners erwe afgebaken het.
“Wetstoepassers het formele waarskuwings aan drie individue uitgereik en ‘n polisiedossier is geopen teen ‘n vierde betrokkene vir verskeie aantygings wat verband hou met aanhitsing tot onwettige grondbesetting en verwante klagtes,” het David Delaney, die munisipaliteit se waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste, by navraag gesê.

Volgens een van die Simondium-inwoners, wat deel was van die optrede, is ‘n taakspan sedertdien gevorm.
Volgens hom het die inwoners, wat glo almal waglys-begunstigdes van die beplande projek is, “binne hul regte” opgetree.
“Daardie grond is deur die plaaslike skool aan ons gemeenskap geskenk om verligting te bring van die behuisingsnood . . .
Sedert 2017 maak die Drakenstein-munisipaliteit egter leë beloftes,” het hy gesê en bygevoeg die taakspan het ‘n versoek gerig om eersdaags met die stadsbestuurder te vergader.
Die inwoners se optrede het gevolg ná ‘n terugvoeringsvergadering wat vroeg in April met die gemeenskap gehou is.
Volgens Delaney het die vergadering inwoners ingelig oor die vordering van die projek. Volgens hom is die finale basiese assesseringsverslag op 1 April vanjaar aan die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning voorgelê, waarna die departement ‘n “besluitnemingsrekord” sal uitreik.
‘n Datum is nie bevestig nie.
You must be logged in to post a comment.