’n Dokument van 27 bladsye deur ’n vroulike werknemer by die Drakenstein-munisipaliteit waarin sy die stadsbestuurder van seksuele teistering, viktimisering en boeliegedrag beskuldig, is glo niks anders as ’n sogenaamde sameswering om van dr. Johan Leibbrandt ontslae te raak nie.
So het Paarl Post vandeesweek gehoor te midde van bewerings dat Leibbrandt glo onlangs amptelik deur die kantoor van die uitvoerende burgemeester vir hierdie bewerings ondersoek is.
Paarl Post het ’n griefskrif deur Max-Lin Jones, ’n munisipale werker, bekom waarin sy beweer dat sy sedert November 2022 deur die stadsbestuurder geteister word.
Jones beweer dat Leibbrandt dikwels onvanpaste opmerkings oor haar voorkoms sou maak, wat haar ongemaklik laat voel.
Sy beweer verder dat hy ná werksure met haar per WhatsApp kommunikeer en dat die teksboodskappe niks met werk te doen het nie.
In die grief deel sy skermgrepe van boodskappe tussen haar en Leibbrandt waarin die stadsbestuurder glo dikwels ander personeellede sou bespreek.
In een beweerde boodskap maak hy glo ’n opmerking dat een van die vroulike personeellede ’n “nuwe pruik moet kry”.
Hy deel glo ook doktersbriewe van personeellede wat vir siekteverlof vra met haar.
“Die stadsbestuurder was duidelik baie gemaklik met my aangesien hy die heeltyd ’n spul onnodige boodskappe met my sou deel rakende sy personeel.
“Hy het al meer obsessief begin raak om met my te gesels en sal selfs oor naweke vir my teksboodskappe stuur. Hy het selfs begin om vir my foto’s te stuur van geleenthede wat ek sou bywoon en sal my dan komplimenteer.
“Ons is nie vriende op sosiale media nie, so ek weet nie waar hy die foto’s gekry het nie,” sê sy in die brief.
Sy beweer dat Leibbrandt op 5 Junie 2023 haar glo na sy kantoor ontbied en sy persoonlike selfoon aan haar oorhandig het waarop hy ’n boodskap getik en haar gevra het dat hulle mekaar beter moet leer ken.
“Ek wou vir jou ’n boodskap stuur, maar ek het eerder besluit om dit nie te doen nie, want in hierdie munisipaliteit kan jy niemand vertrou nie,” het hy na bewering gesê.
Die boodskap op sy foon het gelui: “Ek wil graag hê dat ek en jy erns in hierdie week net bietjie uitgaan na ’n restaurant, erns (sic) buite die werksplek. Net sodat ek jou beter kan leer ken.
“Ek hou baie van jou, maar ek ken nog so min van jou, ek soek net ’n geleentheid om jou beter te leer ken en ’n bietjie in jou kop te kan klim, dat ons net iets kan gaan eet by ’n restaurant.”
Dit het haar glo baie ongemaklik laat voel, het sy verduidelik.
Jones het verdere bewerings gemaak oor hoe die stadsbestuurder glo “onnodige verdeeldheid” onder werkers veroorsaak deur stories te versprei.
Stephan Korabie, Drakenstein se uitvoerende burgemeester, was daarmee belas om Jones se bewerings te ondersoek en het sy bevindings op ’n geslote raadsvergadering op 26 Julie met raadslede gedeel.
Volgens Korabie is Jones “selektief” in die voorlegging van dele van die WhatsApp-boodskappe.
Hy het op die raadsvergadering gesê “sy het dit gedoen met die doel om die werklike situasie te manipuleer”.
Koos le Roux, die raad se speaker, het vandeesweek by navraag gesê 53 uit die 56 raadslede het gestem dat daar geen redelike gronde was om te beweer dat die stadsbestuurder hom wangedra het nie, en het Jones se grief laat vaar.
Paarl Post het intussen ’n brief deur Leibbrandt se prokureur bekom wat glo op 24 Mei aan Jones gerig is.
Daarin kla Leibbrandt Jones van laster aan en eis dat sy skadevergoeding van R500 000 sal moet opdok.
Leibbrandt sê op sy beurt dat Jones se bewerings glo ’n sameswering met voormalige senior amptenare in die gemeenskapsdiensteafdeling is om van hom ontslae te raak.
Die bewerings is dat sy glo saam met die geskorste Gerald Esau, voormalige uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, en Ernest Saayman, ’n geskorste senior bestuurder in dieselfde afdeling, kop in een mus is.
Jones is glo 21 dae gegee om die R500 000 te betaal.