Drakenstein-vallei se Perdeberg-wynlandgoed buite die Paarl het by die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) in samewerking met Agri-Expo met ’n klomp toekennings weggestap.
Die wynplaas het die Pietman Hugo-trofee vir die wynmakery wat die meeste punte met sy vyf beste wyne behaal het, gewen – dit is ook die eerste keer dat Perdeberg met dié trofee wegstap.
Perdeberg het óók uitgeblink deur vier nasionale trofeë te wen, en is ook die enigste kelder wat meer as een nasionale trofee kon wen, naamlik vir die Perdeberg Chenin Blanc (gehout), Perdeberg Viognier (gehout), Perdeberg natuurlike soet witwyn en die Perdeberg Malbec (gehout).
By die toekenningsgeleentheid het die gehoute cabernet sauvignon van Diemersdal-wynlandgoed in Durbanville ook die Generaal Smuts-trofee as algehele Suid-Afrikaanse kampioen jongwyn van 2024 verower, nadat dit ook as die beste cabernet sauvignon (gehout) in die land by die Suid-Afrikaanse jongwynskou aangewys is.
Diemersdal het die trofee reeds twee keer vantevore gewen, in 2013 met ’n sauvignon blanc en in 2022 met ’n gehoute shiraz.
Die Genl. Smuts-trofee word sedert 1952 toegeken.
Die kompetisie se indrukwekkende versameling trofeë is op 23 Augustus aangekondig by ’n dinee by die Elsenburg Landboukollege.
Altesaam 48 wyne het klaswenner-status behaal en 133 het goue medaljes ontvang.
Vanjaar se 1 387 inskrywings is deur 88 spesialis-beoordelaars op 14 panele in oënskou geneem. Die beoordeling het aan die einde van Julie in die Johann Graue-saal op Nederburg in die Paarl oor ’n tydperk van vyf dae plaasgevind, waarna die kampioene in 17 klasse aangewys is asook die twee trofeë vir beste wyn en beste produsent.
Die res van die kampioene is:
- Sauvignon blanc: Stettyn-wynkelder in Worcester;
- Chardonnay: De Wet-wynkelder buite Worcester;
- Sémillon: Cederberg-wynkelder;
- Wit versnitwyn: Die Badsberg-kelder in Rawsonville;
- Edellaatoeswyn: Van Loveren-wynplaas in Robertson;
- Shiraz: Stellenbosch Hills-wynlandgoed;
- Pinotage: Wellington Wines-wynplaas;
- Merlot: Montagu-wynlandgoed;
- Rooi versnitwyn: Botha-kelder in Worcester;
- Dessertwyn: Boplaas-wynlandgoed in Calitzdorp;
- Muskadel: Aan de Doorns-wynplaas; en
- Kaapse Styl: Jakkalsvlei-wynlandgoed.
Die Paarl asook die Breedekloof het die beste vertoning as wynstreke gelewer met vyf nasionale trofeë elk, gevolg deur die Klein-Karoo, Stellenbosch, Robertson en Cederberg.
Een wynmaker elk van Perdeberg en Diemersdal kan as die wenners van die Genl. Smuts- en Pietman Hugo-trofeë onderskeidelik uitsien na ’n geborgde sesdagreis na die buiteland en ook die Simei-wynskou in Milaan en prominente wynmakerye in die Bolzano-gebied besoek.