Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, het Saterdagaand die provinsiale sporttoekennings aangebied, waartydens verskeie Drakensteinse sportlui uitgeblink het. Hierdie toekennings word jaarliks ??aangebied om die sportprestasies van atlete, sportliggame en administrateurs van oor die Wes-Kaap heen te vier.
Die benoemdes was al die wenners van die ses streektoekenningsgeleenthede wat tussen Julie en September vanjaar in die Overberg, Kaapse Wynland, Kaapstad, Tuinroete, Sentraal-Karoo en Weskus plaasgevind het.
Vir die Kaapse Wynland-gebied is Ethan Kulsen aangewys as Junior Sportman van die Jaar, Jayden Cupido as Skole-sportman van die Jaar, Luke Williams as Nuweling van die Jaar, Boland Kavaliers is aangewys as Span van die Jaar, Charlene Elliott as Sport- gemeenskapsontwikkelaar van die Jaar en Elrick Kulsen het die Uitnemendheidstoekenning vir naskoolse sport- en ontspanningsafrigting ontvang.
Marais het almal wat as wenner in hul streke gekroon is, gelukgewens.
“Julle laat wapper die vlag van jul streek. Dankie dat julle rolmodelle en helde vir ons gemeenskappe is. Dankie dat julle die regte en gesonde lewenskeuses gemaak het.
“Dankie dat julle ’n voorbeeld vir ons almal is.”
Junior Sportman van die Jaar
Ethan Kulsen: Ethan het Suid-Afrika in Maart by die Kontinentale Baanfietsrykampioenskap in Egipte verteenwoordig en was 1ste in die 10 km-uitklop-wedren, 1ste 4 km-spanjaag, eerste 30 km-Madison, derde in die 20 km-puntewedren en derde in Omnium. Hy het ook ’n eerste plek in die Scratch-ren (uitklopren), die eerste plek in die spannaelren en die eerste plek in die 1000 m-tydtoets by die SA baanfietskampioenskap in Maart behaal. Hy is gekies om Span Suid-Afrika by die Jeug-Statebondspele te verteenwoordig, waar hy die vlagdraer was. Hy het daarna die tweede uitklop-ren by die Spele voltooi.
Span van die Jaar
Boland Kavaliers:
Vir die eerste keer sedert 2011 het die Boland Kavaliers silwerware na die trotse Boland-Rugby-unies gebring deur as die 2023- SA Rugby-Curriebeker-Eerstedivisiekampioen gekroon te word. Die Boland-Kavaliers het 10 uit 14 wedstryde gedurende die seisoen gewen, wat hulle ’n wen-suksessyfer van 71,4% besorg het. Uit die tien oorwinnings was die beste vertonings hul sege van 72-18 oor die Grens Bulldogs in Oos-Londen en die skitterende oorwinning teen die Valke in die Curriebeker- Eersteliga-eindstryd op 24 Junie in Wellington in ’n stampvol Boland-rugbystadion. Hulle het ook die halfeindronde van die SA Rugby Mzansi Challenge gehaal, maar het teen Suidwestelike Distrikte in George verloor.
SkoleSportman van die Jaar
Jayden Cupido: Jayden is ’n 16-jarige gr. 10-leerder by Klein Nederburg Sekondêr. Hy speel vir die Jaguars- vlugbalklub. Jayden het op 15-jarige ouderdom die jongste lid geword wat vir die Wes-Kaapse senior manspan gekies is. Die Western Cranes het silwer by die nasionale interprovinsiale toernooi gewen. Jayden is in Mei vir die Kaapse Wynland-distrikspan asook die Wes-Kaapse o.17- span gekies. Jayden was in Julie die kaptein van die Wes-Kaapse o.17-span wat ’n bronsmedalje by die nasionale Winterspele gewen het. Hy is gekies om aan die Jeug-Statebondspele in Trinidad en Tobago (strandvlugbal) deel te neem. Dit sal sy eerste internasionale verskyning wees.
Naskoolse sport- en ontspanningsafrigting – Uitnemendheidstoekenning DSV Skofakademie
Elrick Kulsen,
Kaapse Wynland: Elrick is al vir langer as twee dekades by die afrigting en ontwikkeling van fietsryers betrokke. Hy het ryers uit alle sfere van die lewe afgerig en ontwikkel en het baie gehelp om nasionale en internasionale titels te wen.
Die akademie-ryers onder sy afrigting en toesig het altesaam 45 podiumposisies behaal. Tydens die Wes-Kaapse baanfietsrykampioenskap in Oktober 2022 het die akademie 19 podiumposisies behaal, wat 11 Wes-Kaapse titels ingesluit het.
Twee van die ryers onder sy afrigting, Ethan Kulsen en Fjorn Lacky, is gekies om Suid-Afrika by die Kontinentale Baanfietsrykampioenskap in Egipte te verteenwoordig.
Sport-GemeenskapsOntwikkelaar van die Jaar:
Charlene Elliott: Charlene se gemeenskapswerk het in die landelike gemeenskap van Klapmuts, Simondium en Witzenberg begin. Sy het verskeie projekte en veldtogte van stapel gestuur en was deel daarvan, insluitend die anti-boelie-veldtog en is die afgelope ses jaar die skoolhoof van Learning Tree Aftercare en Crèche in Simondium.
Charlene is ’n motiveringspreker by skole, klubs, federasies en kerke en gee graag terug aan haar gemeenskap.
Een van die maniere waarop sy haar toewyding uitdruk, is deur sorg en ondersteuning aan bejaardes te verskaf. As voorsitter van die Kommissie vir Vrouestoei het sy ’n projek gereël waar hulle 200 straatmense van Junie tot Julie bygestaan het deur komberse en kos te verskaf.
Nuweling van die Jaar
Luke Williams: Luke is ’n student by Patrick Ross-karate-akademie.
Hy presteer puik in karate en het onlangs sy bruingordel verwerf.
Luke het ’n goue medalje vir individuele kata en ’n goue medalje vir spankata by die nasionale skoletoernooi gewen.
Hy het ook ’n bronsmedalje vir individuele kata en goue medalje vir spankata by die Wes-Kaapse proewe gewen, sowel as ’n silwermedalje vir spankata by die nasionale wedstryde in Maart in Durban.
Hy het ook ’n bronsmedalje vir individuele kata by die nasionale K1-liga in April gewen.