PAARL – Inwoners van Newton het Vrydag (31 Oktober) met gemengde gevoelens gereageer op die Drakenstein-munisipalietit se skielike aankondiging dat hy die bloekombome op die Bo-Dal-pad by dié woonbuurt se ingang gaan afkap.
Die naby geleë Diemersfontein-wynlandgoed het volgens die munisipaliteit onlangs ‘n aanbod gemaak om die bome teen geen koste af te kap.
Aidan Stowman, Newton se wyksraadslid, en ‘n munisipale afvaardiging wat die raad se Speaker en ‘n stadsbeplanner ingesluit het, het Vrydag ‘n openbare vergadering gehou waartydens inwoners verwittig is oor die munisipaliteit se planne.
Volgens Stowman is een van die hoofredes vir die bome se verwydering weens veiligheid.
“Ons weet verlede jaar het daar van die bome aan die oorkant in die hoofstraat [Jan van Riebeeckweg] geval. Gelukkig in daardie voorval het daar niemand seergekry nie.
“Daar was wel ‘n voorval binne by Diemersfontein waar iemand dood is toe ‘n boom hom getref het. So, ons kan nie nou wag tot wanneer iemand weer beseer is of sterf voordat daar iets gedoen word nie,” het Stownman Vrydag aan die inwoners gesê.

Stowman het verder benadruk dat die bloekomboom ‘n uitheemse spesie is.
Hy sê die munisipaliteit beplan om die bome met inheemse plante te vervang.
Inwoners het Vrydag op hul beurt gevra waaruit die “skielike besluit” spruit.
“In my meer as 40 jaar wat ek in die Newton woon het hierdie bome nog nooit probleme gegee nie. Dit is die enigste stukkie groenigheid wat ons het.
“Dit het oor die jare ‘n gewilde sosiale plek vir ons inwoners geraak. Ek kan nie help om te wonder of daar nou skielik opgetree word omdat hierdie bome dalk Diemersfontein se eienaar ongerief veroorsaak nie,” het een inwoner gesê.
Ander inwoners het hul stempel van goedkeuring gegee op voorwaarde dat die grond benut word vir iets waarby die inwoners kan voordeel trek.
Van die voorstelle was dat die grond in ‘n park of parkeergebied omskep word.
Die aangrensende Newton-sportterrein sal by ‘n parkeerterrein kan baat vind.
Leezil Laubscher, ‘n gemeenskapsleier en aktivis, het aan die munisipale afvaardiging gesê die groter gemeenskap se insae sal in ag geneem moet word alvorens daar enige bome afgekap word.
“Ons sal ‘n vergadering met die gemeenskap moet belê en seker maak almal is op dieslefde bladsy oor wat hier gaan gebeur.
“Dit kan nie wees dat ons ‘n groepie inwoners of julle as ‘n munisipaliteit ‘n besluit neem oor iets wat waarde dra vir die groter gemeenskap nie.
“Laat almal kom met hul voorstelle sodat ons ‘n punt kan bereik waar ons een is oor wat met hierdie grond gaan gebeur.”

David Delaney, Drakenstein-munisipaliteit se senior bestuurder vir ruimtelike beplanning en omgewingsbestuur, het die grond-gebruik aan die inwoners verduidelik.
“Hierdie stuk grond is geoormerk vir gemengde gebruik. Gemengde gebruik beteken dit kan behuising of besigheid wees. Dit kan egter net nie nywerheid wees nie.
“Die grond het dus potensiaal en wat daarmee in die langtermyn gaan gebeur sal onderworpe aan openbare deelname wees.
“In die korttermyn het die raad ‘n versoek gekry van die Diemersfontein-eienaar om die bome te verwyder en dit is wat ons graag vandag hier wil bespreek,” het Delaney verduidelik.
Die munisipaliteit het nog ‘n gemeenskapsvergadering vir eerskomende Donderdag (6 November) belê .






You must be logged in to post a comment.