Drakenstein sê g’n plan om verlate Wellington-sportterrein in nabye toekoms te restoreer

Die Drakenstein-munisipaliteit sê dit is tans moeilik om te bepaal of die Weltevrede-sportterrein in Wellington gered kan word. Foto: Rasaad Adams
Die Drakenstein-munisipaliteit sê dit is tans moeilik om te bepaal of die Weltevrede-sportterrein in Wellington gered kan word. Foto: Rasaad Adams

Die Drakenstein-munisipaliteit het vandeesweek gesê te midde van grootskaalse vandalisme, diefstal en die voortslepende bendegeweld in die gebied kan hy in hierdie stadium nie sê of daar hoop is om die Weltevrede-sportterrein in Wellington in die nabye toekoms tot sy voormalige glorie te herstel nie.

Dié sportterrein, wat in ‘n stadium sportsoorte soos rugby, atletiek, krieket en netbal gehuisves het, is binne ‘n kwessie van tien jaar deur misdadigers tot op die grond afgebreek.

LEES: Weltevrede se sportdae getel

Die veld was in ‘n stadium die tuiste van Roses United RFC, voordat hulle in ‘n ander liga begin speel en na die Pelikaanpark-sportterrein, ook in Wellington, geskuif het.

Paarl Post verstaan dat die veld as ‘n deurpad deur inwoners van die gebied gebruik word.

Tot op hede word steeds nie gehoor gegee aan toegangsbeheermaatreëls wat die munisipaliteit ingestel het nie.

Besorgde inwoners bevraagteken ook die doeltreffendheid van veiligheidswagte wat deur die munisipaliteit aangestel is om vandale af te skrik.

Inwoners sê selfs met die wagte se teenwoordigheid is die veld se klubhuis- en ablusiegeriewe oor die jare gevandaliseer.

Selfs die hokkie by die veld se ingang, wat deur die wagte gebruik word, se dak is gevandaliseer.

Houtpale is deur sokkerklubs op die B-veld opgerig. Foto: Rasaad Adams
Houtpale is deur sokkerklubs op die B-veld opgerig. Foto: Rasaad Adams

Faarieg Rhoda, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het vandeesweek gesê skade aan ondergrondse kabels en dreineringinfrastruktuur het die terrein mettertyd onbruikbaar gemaak.

“Die Weltevrede-sportfasiliteit is tans buite werking as gevolg van grootskaalse vandalisme en diefstal.

“Gevolglik laat die munisipaliteit nie toe dat enige geleenthede by die fasiliteit plaasvind nie en word die fasiliteit nie vir enige byeenkomste verhuur nie.

“Geen gemagtigde rugbywedstryde word by Weltevrede gespeel nie.

Indien enige wedstryde wel plaasgevind het, is dit nie deur die munisipaliteit goedgekeur nie,” sê Rhoda.

Volgens Rhoda is daar verder, weens die gebrek aan noodsaaklike dienste, geen planne om sokkerinfrastruktuur by hierdie terrein in te stel nie.

Dit volg nadat sokkerspanne van die New Rest- informele nedersetting die verlate B-veld begin gebruik het om weekliks informele sokkerwedstryde te speel.

Hierdie spanne het houtpale gebruik om sokkerpale te maak.

Rhoda sê veiligheidspersoneel, wat voorheen by die sportterrein ontplooi is, is gereeld deur plaaslike bendes aangeval, wat tot ernstige beserings en en hospitaalopnames gelei het.

“Ongelukkig het bendeverwante geweld by die sportterrein die afgelope jare ook tot sterftes gelei.”

Rhoda het nie uitgewei oor die munisipaliteit se huidige ooreenkoms met die betrokke veiligheidsmaatskappy nie.

Volgens Rhoda het die voormalige toesighouer intussen afgetree en is formeel deur die munisipaliteit versoek om die perseel te ontruim.

Rhoda het wel bevestig dat die munisipaliteit tans alternatiewe gebruike vir die Weltevrede-terrein ondersoek en dat toekomstige planne gekommunikeer sal word sodra dit gefinaliseer is.

You need to be Logged In to leave a comment.