Drakenstein Sakekamer se maandelikse netwerkgeleentheid is Vrydag deur The Wagyu Experience op die Lustiganpad aangebied. Van links is Dirk Breytenbach (Drakenstein Sakekamer se voorsitter), John Phillips (Boland Landmark), Francis Nieuwoudt (Drakenstein Sakekamer se hoofbestuurder), Warren Bouwer (The Wagyu) en Jovan Pienaar (Conquerer Wes-Kaap.)Foto: Natalie Gabriels


Drakenstein Sakekamer is onlangs by die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) se jaarlikse dinee, wat by Goedgeleven in Durbanville gehou is, aangewys as een van vier finaliste in die Wes-Kaapse Sakekamer van die Jaar-kompetisie.

Sakekamer se voorsitter, Dirk Breytenbach, sê die kompetisie was baie mededingend. Tygerberg Sakekamer is as die algehele wenner aangewys.

“Hoewel ons teleurgesteld was met die uitkoms, is ons vasbeslote om dadelik weer te begin werk aan volgende jaar se kompetisie,” sê hy.

“Ess-Jee Rautenbach van Fearless Wolf Life Coaching was ’n finalis in die Sakeonderneming van die Jaar-afdeling. Veels geluk met jou prestasie.”

Verder sê Breytenbach Sakekamer het vanjaar suksesvol omgeskakel na ’n maatskappy sonder winsbejag (NPC) en die bestuurstrukture bestaan reeds om hul visie om ’n gerekende suksesvolle sakenetwerk vir hul lede te wees, suksesvol vorentoe te neem.

“Ons is ook besig om die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, se projek Growth for Jobs (G4J), gestalte te gee deur verskeie aksies om ’n effektiewe sakeomgewing vir die groei van werksgeleenthede te help skep. Ons doel is om verskeie inisiatiewe van die plaaslike regering en sake­ondernemings te verbind deur aksies van verantwoordelike burgerskap uit te oefen, waar ons kan deelneem aan plaaslike prosesse en komitees van die munisipaliteit om saam ’n beter omgewing vir almal te help skep.”

Sakekamer bedryf ’n wye reeks portefeuljes om lede en nuwe toetreders tot die mark te bemagtig met kennis en inligting van die AHI, ons sambreelorganisasie, en lede wat spesialiste in verskeie sakedissiplines is. Die gemeenskap moet bedag wees op organisasies wat vir persoonlike gewin gestig word en daardeur inisiatiewe dupliseer wat suksesvol binne bestaande organisasies soos Sakekamer en ander bewese en bestaande burgerlike groeperings bedryf kan word. Van hierdie organisasies is duidelik uitsluitend deurdat dit fokus op politieke affiliasies, godsdienstige oorwegings, geslag of ras, wat nie die breër samelewing in ag neem nie en onnodig verdelend is.

“Sakekamer het ook strukture wat vroue en die jeug bemagtig en verwelkom voorstelle in dié verband.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article