Klagte van bedrog en crimen injuria is teen ‘n DA-raadslid van Paarl-Oos by die Paarl-polisiekantoor aanhangig gemaak. Dit hou verband met bewerings dat sy glo verlede jaar geld wat vir ‘n sopkombuis in haar wyk bedoel was, misbruik het.
Die raadslid het ook glo twee werkers onregmatig ontslaan en hulle met haar dogters vervang.
Die crimen injuria-aanklagte hou verband met bewerings dat sy op ‘n geslote DA-koukusvergadering glo na swartmense as “bantoes” verwys het.
Die Paarl-polisie het egter intussen by navraag gesê dit is ‘n siviele aangeleentheid en dat hy dit so aan die klaer oorgedra het.
Die klagte is op Maandag 2 Junie deur Linda Landu, ‘n voormalige DA-raadslid, wat die party in Februarie vanjaar verlaat het, ingedien.
Paarl Post het vroeër berig dat Landu die party verlaat het weens die “politieke onstabiliteit en verdeeldheid” wat haar nie meer tuis laat voel het nie. Sy het toe al beweer ‘n DA-raadslid het op ‘n geslote DA-vergadering na swartmense in die munisipaliteit as “bantoes” verwys.
LEES: ‘Té veel onder mat gevee’, sê Drakenstein DA-raadslid ná sy bedank
In haar klagte het sy onthul dat dit ene Brenda van Willingh, raadslid vir Wyk 14 (Groenheuwel en Smartie Town) was, wat hierdie beweerde uitlatings gemaak het.
Volgens Landu het sy ‘n klagte van bedrog aangemeld nadat die raad se Speaker, Koos le Roux, na haar mening nie sy kantoor se mandaat gebruik het om die bewerings oor die sopkombuis behoorlik te ondersoek nie.
Paarl Post het in November verlede jaar berig dat Van Willingh glo minstens R18 000 van munisipale geld na haar dogters se bankrekeninge oorgeplaas het – geld wat bedoel was om werkers by ‘n sopkombuis in haar wyk te betaal.
LEES: GOOD-party in Drakenstein eis ondersoek teen DA-raadslid wie glo sopkombuis-fondse misbruik
Die GOOD-party het in daardie stadium geëis dat Van Willingh ingevolge artikel 16 van die gedragskode getug moet word. Dit sou beteken dat ‘n eksterne liggaam die bewerings sou ondersoek en ‘n verslag aan die raad voorlê.
Le Roux het toe wel die item aan die raad geopper, maar die meerderheid van die raadslede het daarteen gestem.
Hy het wel ‘n ondersoek deur sy kantoor begin en Van Willingh is [volgens die Speaker] aan geen wangedrag of misdaad skuldig bevind nie.
Volgens Landu het Van Willingh egter op ‘n DA-vergadering skuld beken.
“Sy het die bewerings op ‘n DA-koukusvergadering, waarvan ek deel was, erken. Sy het gesê sy vertrou niemand buite haar fa-
milie om in haar kombuis te werk nie en daarom het sy haar dogters aangestel. Sy het mense wat deur die munisipaliteit deur die regte aanstellingskanale ontplooi is, verwyder om vir haar familie plek te maak. Dit is nepotisme en bedrog,” het Landu verlede week gesê.
Volgens haar het die Speaker na bewering op daardie selfde vergadering vir Van Willingh tot orde geroep. “Die Speaker se antwoord aan haar was: ‘Brenda, hou nou op voordat jy jouself in die moeilikheid bring’.”
Volgens Landu is sy steeds van mening dat die klagte misdadig van aard is en sy sal haar vir verdere leiding na die provinsiale polisiestrukture wend. Sy het ook gesê sy gaan eis dat die Speaker vir sy hantering van die klagtes verlede jaar vervolg word.
Le Roux het by navraag gesê: “Die presiese besonderhede van die beweerde strafregtelike klagte en die betrokkenheid van die voormalige raadslid Landu is nie aan my bekend nie, en ek kan dus nie kommentaar lewer nie.”
• Paarl Post het na Van Willingh uitgereik om haar die geleentheid te bied om kommentaar te lewer op die bewerings wat teen haar gemaak word, maar sy het dit van die hand gewys.