Die Drakenstein-munisipaliteit se amptenare is veronderstel om ’n voorbeeld te stel vir die res van die vallei se inwoners, en daarom is dit skandelik dat raadslede se uitstaande verkeersboetes bykans R60 000 beloop.
Dit was Vrydag (26 April) die sentiment van Stephen Korabie, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, toe hy op ’n raadsvergadering dié onthulling oor raadslede se uitstaande verkeersboetes gemaak het.
“Ek wil graag hê dat julle as raadslede moet kennis dra van hierdie lys wat deur die adjunkburgemeester gesirkuleer word. Ons wat hier sit, moet ’n voorbeeld stel, maar intussen sit ons hier met uitstaande verkeersboetes van R59 200.
“Ek doen ’n beroep op almal om asseblief hul uitstaande boetes te betaal. Dit maak mos nie sin dat ons die inwoners maan om seker te maak hul rekeninge is op datum, maar dan betaal ons as amptenare self nie ons boetes nie,” het Korabie gesê.
Die onthulling oor die verkeersboetes het toe gelei tot ’n debat oor algemene agterstallige rekeninge onder raadslede.
’n Raadslid uit die opposisiebanke wou by Gert Combrink, die adjunkburgemeester, weet watter stappe teen raadslede met uitstaande skuld gedoen gaan word.
“Dit kan nie wees dat die Speaker met elke liewe raadsvergadering ons moet herinner om ons skuld te betaal nie. Hier het onlangs ’n raadslid gesê dat die munisipaliteit teen sy ma opgetree het nadat sy slegs met R100 agterstallig was.”
Combrink het op sy beurt gesê sodra inwoners, insluitend raadslede, vir meer as 30 dae agterstallig is, word ’n beperking op hul dienste geplaas.
“Selfs in hierdie raad het ek ‘vyande’ wat al na my kantoor toe gekom het om te wil weet hoekom hul dienste ingeperk is. Wanneer amptenare vir meer as 90 dae agterstallig is, word tugstappe teen die betrokke amptenare geneem,” het Combrink gesê.
David Frost, die voorsitter van die Paarl-belastingbetalersvereniging, het by navraag aan Paarl Post gesê dit is die plig van ’n owerheid – in hierdie geval die munisipaliteit – om alle gelde wat aan hulle verskuldig is, te verhaal.
“Sodoende word die las op belastingbetalers verlig, ongeag die aard van die skuld – hetsy belastings of boetes.”
Frost en Korabie is daarmee eens dat staatsamptenare ’n groter verantwoordelikheid moet dra om te verseker dat uitstaande skuld en boetes betaal word.
“Aan die een kant – indien die boeteskuldoorsaak dié van ’n raadslid sou wees, dan is daar onses insiens ’n swaarder plig deur sodanige raadslid om die skuld te vereffen, gesien die ampsposisie en verhoogde vlak van verantwoordbaarheid wat teenwoordig behoort te wees.”
Frost het bygevoeg dat amptenare, gegewe die omstandighede, wel die geleentheid gegun moet word om enige boetes of skuld hoegenaamd te kan betwis.
“Dit ontneem egter nie sodanige amptenaar die reg om hul onskuld in ’n geregshof te bewys nie, sou die bewerings betwis word.
“Aan die ander kant is dit ook die plig van die owerheid om te verseker dat die regsproses sy volle gang gaan en dat prosesstukke, waar nodig, korrek bedien word om die reg sy gang te laat gaan en skuldiges tot verantwoording te bring.”