Die Pelikaanpark-sportterrein in Wellington. Foto: Roses United RFC

‘n Vurige debat is verlede week in die Drakenstein- munisipale raadsaal gevoer toe die Concerned Drakenstein Residents (CDR) ‘n mosie ter tafel gelê het waarin hy vra dat die Pelikaanpark-sportterrein in Wellington na die ontslape rugbybekende Cornal Hendricks hernoem word.

Pelikaanpark is die tuiste van onder meer die Roses United-rugbyklub vir wie Hendricks voor sy professionele rugbyloopbaan uitgedraf het.

Feitlik elke ander politieke party was van mening dat die Drakenstein- vallei verskeie ander sportsterre opgelewer het en dat (sonder enige emosie) oor CDR se voorstel besin sal moet word.

LEES: Vereer Cornal Hendricks só, vra groep

Bazil Jacobs, ‘n CDR-raadslid, het in die voorlesing van die mosie op Vrydag 27 Junie se raadsvergadering gesê: “Ons het mense soos Jan van Riebeeck en [Hendrik] Verwoerd wat vereer is. Daar is standbeelde en monumente in hul eer opgerig wat eintlik baie negatief is.

“Chester Williams (gebore in die Paarl) was die eerste bruin Springbok-speler wat met ‘n goue medalje vereer is. Hier in Drakenstein is ‘n plakkerskamp na hom genoem.

“Ek wil net verhoed dat dit Cornal Hendricks se nalatenskap is. Ons praat van ‘n oorbevolkte plakkerskamp sonder water, waar mense in armoede lewe.

“Ons versoek is dat hierdie mosie moet uitgaan na die gemeenskap en die verskeie sportkodes vir hul oorwe-

ging,” het Jacobs gesê.

“Ek weet hierdie is ‘n sensitiewe saak en dit moet glad nie as ‘n politieke aangeleentheid beskou word nie. Dit gaan eenvoudig daaroor dat ons eer bring aan ons eie plaaslike helde en iets begin waarop ons gemeenskappe trots kan wees,” het hy bygevoeg.

Avron Appollis, ‘n DA-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, het in reaksie op die mosie gesê emosie moet nie aan die voorstel geheg word nie.

“Ons het baie helde in die hele Drakenstein – nie net Wellington nie. Hier in die raad is ook raadslede wat destyds hard rugby gespeel het.

“Daar is ook name soos Randy Marinus, Christie Abrahams en Chester Williams.”

Hy het begevoeg hierdie mosie sal dus “baie versigtig” bekyk moet word.

Die ANC in die raad het gesê hy is ten gunste van die hernoeming van die stadion, maar het ook ander name voorgestel.

Die raad het toe uiteindelik, op die raad van die burgemeester, Stephen Korabie, beslis dat die mosie na die verwante portefeuljekomitees verwys word.

“Dit is duidelik dat hierdie ‘n baie emosionele kwessie is. Dit is inderdaad ‘n feit dat ons gebied baie helde opgelewer het. “Baie name is nou vanoggend genoem, maar die mosie is vir die hernoeming van slegs een stadion. My voorstel is dat die verwante portefeuljekomitees vereistes saamstel vir sulke hernoemings, dat openbare deelname betrokke is en dat ons hierdie ding reg doen,” het die burgemeester gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.