Ten spyte van sogenaamde opgraderings aan die stelsels waarmee die Drakenstein-munisipaliteit bouplanne goedkeur, juis om aansoeke te bespoedig, bly die proses van bouplan-goedkeuring “pateties stadig”.

Só sê bouers, argitekte en ontwikkelaars wat gereeld by Paarl Post oor die munisipaliteit se voetslepery hiermee kla.

Hulle meen dat dit soms tot langer as ’n jaar kan duur vir ’n eenvoudige bouplan om goedgekeur te word. Dit terwyl – volgens nasionale regulasies – aansoeke vir planne van 500 m² binne ’n maand goedgekeur moet word en groter planne binne twee maande.

Plaaslik neem planne tot ’n jaar en langer om by die munisipaliteit goedgekeur te word.

Sakelui sê dit stuit ontwikkeling en skrik ook beleggers af.

In ander dorpe soos Malmesbury en Hermanus word bouplanne soms binne ’n week, of selfs ’n dag of twee, goedgekeur.

Nou het die Paarl-tak van die Meestersbouersvereniging (MBA Boland), as spreekbuis vir die boubedryf in die geheel, ook sy ontevredenheid en frustrasie hieroor uitgespreek.

MBA Boland se direkteur, Daniel Uys, het in ’n kommerwekkende brief namens werkgewers in die boubedryf aan die munisipaliteit geskryf om hul frustrasies te opper oor die buitensporig lang tyd wat die Drakenstein-munisipaliteit neem om bouplanne te finaliseer en goed te keur – vir veranderings aan persele asook nuwe persele onder sy jurisdiksie.

Uys het gesê die frustrasies van sommige van die kontrakteurs wat hierdie vereniging gekontak het, is dat hulle tot nege maande wag vir goedkeuring van bouplanne en dat gereelde navrae aan die betrokke departement onsuksesvol is en geen redes vir die vertraging oplewer nie.

Verder het Uys uit die Staatspresident se Sona-toespraak van 2017 aangehaal, waar hy gesê het: “Daar moet geen onnodige vertragings en geen onnodige rompslomp van die uitreik van lisensies tot visums wees nie. Ons behoort dit maklik te maak om in Suid-Afrika sake te doen.”

Uys het gesê Suid-Afrika beleef tans ’n baie moeilike ekonomiese klimaat en die vertraging in die goedkeuring van planne het ’n rampspoedige uitwerking op die bedryf as geheel – vir verskaffers, kontrakteurs en werkers.

“Dit het veral ’n geweldige negatiewe uitwerking op werkers wat op hierdie projekte aangewese is om ’n inkomste vir hul gesinne te verseker.

“Weer eens raak dit die mees kwesbare werkers, en dit het ’n negatiewe invloed op hul gesinne. Hierdie vertragings kan ook lei tot die diensbeëindiging van werkers in die boubedryf as projekte nie op skedule kan voortgaan nie.

“Enige vertraging in die goedkeuring van planne het ook ’n astronomiese uitwerking op die beplanning van kontrakteurs wat ander projekte van die hand gewys het om ’n projek waarvoor die planne nie goedgekeur word nie, te voltooi. Dit het ernstige gevolge aangesien die kontrakteur tydperke sonder werk ervaar wanneer hulle ander werk kon verrig het, maar van die hand gewys het.

“Die MBA is oop vir konsultasie met die munisipaliteit oor die redes vir die vertragings en om oplossings vir die probleem te vind. Indien die vertragings deur ontoereikendheid in die voorleggingsdokumente veroorsaak word, sal die vereniging hierdie kwessies met die kontrakteurs aanspreek, wat die munisipaliteit in sy taak sal bystaan.

“Ons moet almal saamwerk om werk te skep en te verseker dat ekonomiese groei in ons jurisdiksiegebied plaasvind.”

Die burgemeester, Conrad Poole, het in 2016 reeds erken die munisipaliteit het probleme in die stelsel vir die goedkeuring van bouplanne.

Hy het daar opvolgens belowe dat hulle aan die werk sal spring om hierdie baie belangrike dienslewering te verbeter.

Sedertdien is egter nie veel aan die tydsduur van die proses verandering nie, tot die groot frustrasie van die plaaslike boubedryf.. Despite upgrades to the municipality’s building plan division to speed up the process in which building plans are approved, the system is – according to role players in the building industry – still painfully slow.

You need to be Logged In to leave a comment.