Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) het onlangs in ‘n advertensie tenders vir ‘n nuwe diereskut gevra. Dié skut sal vir die volgende vyf jaar op ‘n kontrakbasis in diens gestel word.

Volgens Eda Barnard, die DM se waarnemende hoof van gemeenskapsdienste, word tenders gevra vir die hantering van “groot en klein diere-spesies, asook die bestuur en hantering van die skut in terme van die toepaslike wetgewing”.

Hoewel dit ‘n openbare dokument is, het die DM met die Paarl Post se navraag nie veel ander inligting oor die tender bekendgemaak nie.

Volgens Lisinda Lubbe, die bestuurder van die Paarl se dierebeskermingsvereniging (DBV), tree hierdie organisasie reeds 35 jaar as die Paarl se skut op – saam met die

Wellington-DBV, wat op sy beurt ook vir Mbkeweni, Vlakkeland en Wellington verantwoordelik is.

Sy sê die Paarl-DBV het weer aansoek gedoen om as die diereskut in die Paarl op te tree.

Die munisipaliteit het die afgelope paar jaar kritiek van diereorganisasies en individue ontvang vir sy bestuur van rondloper- en verwaarlose diere, met mense wat sê dat die DM nie sy eie verordeninge nakom om rondloperdiere op hok te hou nie.

Een van dié diereliefhebbers is Bonita Denton, wat oor die jare deel was van verskeie diereorganisasies en meer onlangs die Paarl Lost & Found- WhatsApp-groep gestig het, waar inwoners hul ontsnapte huisdiere of dié wat opgetel is, kan adverteer.

Denton beweer die munisipaliteit verskaf nie genoeg gratis dienste aan minderbevoorregte mense wat diere besit nie. Volgens haar is ‘n moontlike oplossing om diere op ‘n maandelikse basis gratis te sterlisieer en op dié wyse die aanteling van straatdiere te voorkom.

Denton sê sy weet dat die munisipaliteit nie noodwendig oor die finansiële vermoë beskik om hierdie diens gratis te lewer nie, maar voer aan dat eksterne finansiering hiervoor gereël kan word.

Lubbe, tesame met Elizabeth Down, die bestuurder van die Wellington DBV, voer aan dat die DM nie sy verordeninge oor rondloper- en verwaarlose diere nakom nie.

Volgens Lubbe dui die verordeninge aan dat slegs twee honde per erf aangehou kan word, maar weens ‘n tekort aan wetstoepassers word dié verordening nie gereeld afgedwing nie. Indien dit wel afgedwing word, kan dit volgens Lubbe die aantal rondloper- en verwaarlose diere bekamp.

Volgens haar het die Paarl-DBV ook voorgestel ‘n verordening moet ingestel word vir die teling van huisdiere waar die diere se eienaars eers om ‘n lisensie moet aansoek doen voordat teling plaasvind.

Down sê finansiering vir klinieke vir sterilisasieprogramme en bewusmakingsveldtogte kan ook ‘n verskil maak.

You need to be Logged In to leave a comment.