Die Drakenstein-munisipaliteit is Vrydagaand in Stellenbosch as die beste sekondêre stad in die Wes-Kaap en die naaswenner in die beste munisipaliteit (algehele afdeling) by die Wes-Kaapse regering se gesogte toekennings vir diensuitnemendheid vereer. Die topplek vir die beste munisipaliteit in die provinsie het aan die Swartland-munisipaliteit gegaan.
Drakenstein het by die geleentheid ook die tweede plek in die afdeling Beste Projek behaal, en die derde plek in die afdeling Beste Rompslompvermindering/Gemak om sake te doen.
Die Wes-Kaapse regering bied jaarliks die toekennings vir diensuitnemendheid aan om uitnemendheid in die openbare sektor te erken en te beloon, ’n burgergesentreerde kultuur te bevorder en professionaliteit te verskans.
Die toekenningsgeleentheid is vanjaar die negende keer aangebied. Die toekennings bevorder die deel van beste praktyke, leer en peiling van burgers se tevredenheid met die regering se prestasie.
“Om hierdie toekennings te wen, is ’n groot eer, en dit kom nie sonder harde werk en toewyding nie. Daarvoor salueer ek dr. Johan Leibbrandt, ons stadsbestuurder, en sy topbestuurspan,” het Stephen Korabie, nuutverkose burgemeester van Drakenstein, gesê.
“Ons munisipaliteit skroom nie om baanbrekerswerk te doen nie. Hierdie benadering verbeter nie net die lewe van ons inwoners en sakeondernemings nie, maar lok ook meer beleggers en ontwikkelaars in ons stad van uitnemendheid.”
In die afdeling Beste Rompslomp-vermindering/Gemak om sake te doen, is die toekenning aan Drakenstein se retensie- en groeispan (RGT) toegeken.
Die RGT oorbrug die gaping tussen die munisipaliteit en sakelui van Drakenstein suksesvol, wat ’n vaartbelynde dienservaring vir beide bestaande besighede en voornemende beleggers verseker. Behalwe vir wetgewende aanpassings, het die RGT se praktiese ondersteuning dienslewering en beplanningsverwante besluite aansienlik bespoedig.
Om ander waardige aanspraakmakers vir die Beste Projek-toekenning te oortref, was Drakenstein se inisiatief om ononderbroke kragtoevoer (UPS)-verkeerseintoerusting in ondergrondse kamers te huisves – ’n eerste vir Afrika.
Hierdie kamers is in samewerking met Smartlock Systems ontwerp en is toegerus met alarms wat pogings kan opspoor om ongemagtigde toegang te verkry. Om instandhouding te vergemaklik, kan die toerusting tot bogrondse vlak gehys word om gebruikersinvoer en instandhouding op ooghoogte moontlik te maak.
Die projek is ook deel van Drakenstein se driedelige benadering om Eskom-beurtkrag te versag en onderstreep die munisipaliteit se verbintenis tot infrastruktuur wat groei onderhou, sakeondernemings en toerisme ondersteun en pendelaars bedien.
“Dit is vir ons belangrik om voort te gaan om die verkeersvloei te reguleer, veral by ons groot verkeerskruisings, tydens Eskom-beurtkrag. In ’n groeiende stad, soos in Drakenstein, is dit noodsaaklik dat die munisipaliteit ons infrastruktuur aanvul om verhoogde verkeer die hoof te bied. Ons inwoners, besighede, ontwikkelaars en besoekers verwag niks minder van ’n Eerstewêreldse stad nie,” sê Korabie.
Die Drakenstein-munisipaliteit is onlangs deur Good Governance Africa in sy 2024- Governance Performance Index-verslag as die nommer een- sekondêre stad in Suid-Afrika aangewys.
Sedert 2008 het die munisipaliteit 16 opeenvolgende ongekwalifiseerde ouditmenings van die ouditeur-generaal van Suid-Afrika behaal, waarvan nege skoon oudits was.