matrieks
Die top matrikulante van 2025 in die Drakenstein-vallei. Foto: Jana Scheepers

Die Drakenstein-munisipaliteit het 15 Januarie tydens ’n amptelike seremonie sy topmatrikulante vereer vir hul uitmuntende akademiese prestasies. Die geleentheid is bygewoon deur die top twee matrikulante van elk van die 19 hoërskole binne die munisipale gebied, behalwe vir die Boland Landbouskool waar die top drie matrikulante die funksie bygewoon het nadat die top twee leerders identiese punte behaal het.

Skoolhoofde van die skole wat vanaf Paarl tot in Saron strek, was ook teenwoordig.

Altesaam 39 trotse leerders, saam met hul families, het die seremonie in die gemeenskapsaal in Wellington bygewoon.

Stephen Korabie, burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit (DM) asook prof. Michael le Cordeur, ‘n emeritus professor in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, het die leerders toegespreek en hulle bedank vir hul harde werk en deursettingsvermoë en hulle aangemoedig om te volhard.

Volgens Le Cordeur, ‘n Drakenstein-inwoner, is die uitslae indrukwekkend en hy het die suksesvolle leerders en hul ouers gelukgewens.

“Ek dink die uitslae is bo verwagting hoog en ek is ook bly dat soveel van ons kinders vir universiteitstoelating gekwalifiseer het, maar ons moet baie versigtig wees, want dit beteken nie noodwendig dat alles pluis is in die onderwysstelsel nie,” het hy gesê.

Asezile Gwaze, van die Ihlumelo Sekondêre Skool in Mbekweni, wat as een van die skool se top twee matrikulante die seremonie bygewoon het, het vertel dat sy ses onderskeidings behaal het en vanjaar gaan aanklop by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg om regte te studeer. Gwaze het vanjaar se matrieks aangeraai om dadelik skouer aan die wiel te sit en nie te wag vir die rekordeksamen of eindeksamen om hul punte te verbeter nie.

Nina Voigt, ‘n matrikulant van die Hoër Meisieskool La Rochelle, se advies vir matrikulante sluit aan by Gwaze, terwyl Voigt bygevoeg het dat leerders gedisiplineerd moet studeer tydens die rekordeksamen, omdat dit die leerwerk vergemaklik tydens die eindeksamen. Voigt gaan medies aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer.

Nabeelah Green, van die Hoërskool Noorder-Paarl, het gesê dat sy dikwels ChatGPT en Quizlet gebruik in die voorbereiding vir haar eksamens om nota’s te maak of vrae te formuleer. Volgens haar het sy ook haar selfoonverbruik verminder om gefokus te bly en gereeld in gebed getree en na haar geloof gedraai. Green is ingeskryf vir ‘n graad in maatskaplike werk by die US.

Die LK Zeeman Akademie was ook verteenwoordig tydens die seremonie en het bekendgemaak dat hul slaagsyfer met ongeveer 50% verbeter het. Vir 2025 staan dit op 83,8% waar dit die jaar vantevore op ongeveer 33% gestaan het.

Volgens Carin Venter, die skool se nuwe kuratorhoof wat tydelik in Mei 2024 by die skool aangesluit het totdat ‘n nuwe skoolhoof aangestel word, het sy dit haar missie gemaak om die skool se matrikulante by te staan. Dit het ingesluit om dissipline onder die leerders te kweek, sowel as onderrigaanpassings wat ingesluit het meer ekstra klasse, weeklikse toetse asook vakansieskole.

Die matrieks was ook deur die skool gemotiveer deur middel van balkies wat uitgedeel word sodat hulle “spesiaal voel, en voel asof hulle hoort”.

matrieks
Van links is Noel Peterson (distriksdirekteur), Sinovuyo Simakade (matrikulant by LK Zeeman Akademie), Hlalinathi Mgajo (matrikulant by LK Zeeman Akademie), Carin Venter (skoolhoof) en Elna von Schlicht (burgemeester van die Kaapse Wynlanddistriks-munisipaliteit) Foto: Drakenstein Municipality/ Facebook

Volgens Venter het sy ook die personeel gemotiveer om met “passie op te voed” en het sy verhoudinge gebou met die matriekklas van 82 leerders. Venter het ook seker gemaak die matrikulante doen beplanning en het hiervoor vir hul kalenders uitgedeel. Sy het hulle ook beloon as hulle toetsuitslae bo 70% is.

Die skool het tans 750 leerders en maak hoofsaaklik van staat- en privaatfinansiering gebruik omdat die leerders nie skoolgeld betaal nie.

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys het die matriekuitslae op 12 Januarie vrygestel en aangekondig dat die land se gemiddeld vanaf 86,2% tot 88,2% gestyg het – die hoogste nóg in die land.

Volgens ‘n toespraak deur Gwarube is die nuwe koers wat die departement vir die basiese onderwysstelsel ingeslaan het, gekenmerk deur diep wortels, sterk fondamente en ’n langtermynvisie.

“Dit fokus soveel op gehalte as op toegang, op veiliger skole deur samewerking met die polisie, op die versekering dat elke kind teen die ouderdom van vyf kan floreer en op die opvoeding van ’n geslag wat in staat is om Afrika se demografiese dividend op te eis.

“Maar die regering kan nie hierdie werk alleen doen nie. Die versterking van leerfondamente is ’n nasionale projek,” het sy gemaan.

David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, het ook op die uitslae gereageer. “[Die Wes-Kaap se] baccalaureus-slaagsyfer, ’n sleutelmaatstaf van gehalte-matriekslaagsyfers, het van 47,8% tot 49,2% gestyg. Dit is ook die hoogste ooit vir die Wes-Kaap en die tweede hoogste in die land.

LEES OOK: Historic 88% pass rate marks best-ever matric results for South Africa

“Ons kandidate het die tweede hoogste onderskeidingsyfer in die land behaal, met 13 234 kandidate wat in 2025 altesaam 31 220 onderskeidings verwerf het.”

In Drakenstein is die matriekuitslae met groot opwinding ontvang, met die slaagsyfer vir die Kaapse Wynland-distrik wat op 84,6% te staan gekom het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article