Die ingang na Bainskloofpas vanaf Wellington wat duidelike hoogtebeperkinge aandui. Foto: Jana Scheepers

BAINSKLOOF – Nadat die Drakenstein-munisipaliteit (DM) aanvanklik die VF Plus se mosie oor die misbruik van die Bainskloofpas deur vragmotors op die raadsvergadering op 30 September verwerp het, het die munisipaliteit nou van plan verander en wel met die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) in gesprek getree. Die KWDM het intussen ’n skrywe aan die Wes-Kaapse premier en die departement van mobiliteit gerig om die kwessie op hoër vlak aan te spreek.

Volgens Koos le Roux, speaker van die DM, “ondersteun [die DM] die versoeke om Bainskloofpas te beveilig en te beskerm in die belang van ons inwoners én besoekers [en is] dit waarom die DM die skrywe aan die KWDM gerig het”.

Raymond Esau, waarnemende munisipale bestuurder van die KWDM, het op sy beurt bevestig dat die skrywe ontvang is en dat die KWDM ‘n brief oor die kwessie aan die Wes-Kaapse premier en die departement van mobiliteit gestuur het.

Regan Thaw, woordvoerder vir Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het bevestig dat die kantoor die brief ontvang het.

Die koerant het uitgereik na die Wes-Kaapse departement van mobiliteit, maar nog geen terugvoering ontvang nie.

Volgens Esau is die aangeleentheid by die onlangse District Coordinating Forum (DCF) bespreek, waar besluit is dat die forum provinsiale ingryping sal fasiliteer.

Esau het verduidelik dat die DCF ‘n maandelikse vegadering is wat deur burgemeesters en munisipale bestuurders bygewoon word om sake van wedersydse belang te bespreek en moontlike oplossings voor te stel.

Die VF Plus het op die raadsvergadering versoek dat die DM met die KWDM en die Wes-Kaapse provinsiale regering in gesprek tree oor vragmotors se voortdurende misbruik van die Bainskloofpas.

Volgens Le Roux sal die “Bainskloof-aangeleentheid ook môre (22 Oktober) op ‘n vergadering in Kaapstad deur verteenwoordigers van die Wes-Kaapse regering, die KWDM en DM bespreek word.

Stephen Korabie, uitvoerende burgemester van die DM, het op die raadsvergadering gesê die mosie is onakkuraat omdat die Bainskloofpas nie onder die DM se jurisdiksie val nie, aangesien dit ’n provinsiale pad is. Die debat het spanning veroorsaak tussen die VF Plus, DA en ANC, waarna die DA en ANC vir ’n kort reses gevra het om die saak te bespreek.

Die speaker, Koos le Roux, het uiteindelik ’n stemming gelas waarin drie raadslede (van die VF Plus) ten gunste van die mosie gestem het, 31 daarteen, en 16 nie gestem het nie.

LEES OOK: DM verwerp VF Plus se Bainskloof-mosie

Korabie het verder op die raadsvergadering gesê dat hy nie die party se “toon” in hul mosie wat geopper is, goedkeur nie, waarin hulle volgens die raadsvergadering se sakelys gesê het dat hul optrede van die DM wat betref Bainskloofpas “demand” (sic), waarna die burgemeester hierdie woord as neerhalend beskryf het.

Stephan Landsberg, VF Plus-raadslid in Wellington, het in reaksie in ‘n destydse verklaring gesê die besluit is “kortsigtig en onversoenbaar met die verantwoordelikheid om ‘n nasionale erfenisroete te beskerm”. Hy het bygevoeg hoewel die pas tegnies buite die DM se jurisdiksie val, “verhoed niks die munisipaliteit om met die provinsiale regering in gesprek te tree” om die pas te beskerm nie.

Volgens hom is daar tussen 2023 en 2025 al 57 voorvalle op die pas aangemeld wat padskade, erosie en lang verkeersopeenhopings veroorsaak het.

Hy het verduidelik dat die party wag op die uitkoms van die DM se skrywe aan die KWDM en beoog om die kwessie verder te voer indien die huidige roete nie vrugte afwerp nie.

Volgens hom het die DM in sy skrywe aan die KWDM, wat Paarl Post onder oë gehad het, dieselfde voorstelle gemaak as wat die VF Plus in sy mosie op die raadsvergadering gemaak het.

Jandré Bakker, die direkteur van operasionele ondersteuning by die departement van infrastruktuur (DOI), het by ‘n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê dat Bainskloofpas ‘n provinsiale pad is, met die Wes-Kaapse DOI wat dus die padowerheid vir instandhouding is, maar dat die DOI die KWDM afgevaardig het om hierdie funksie te verrig, wat slegs insluit “roetine- en kleiner instandhoudingswerk” namens die DOI.

Die DOI het in sy vorige kommentaar gesê polisiëring van die pas is die KWDM se mandaat, terwyl die KWDM in sy vorige kommentaar gesê het die mandaat is dié van die departement van mobiliteit.

You need to be Logged In to leave a comment.