Drakenstein-munisipaliteit se koopkragmeters sien eersdaags vernuwing

Teen 24 November vanjaar moet koopkragmeters herprogrammeer wees om sodoende gebruik te maak van ’n nuwe stel 20-syferkodes, nadat die ou stelsel wat in 1993 van stapel gestuur is, uitgeput is.

Foto ter illustrasie. Foto: Argief


Teen 24 November vanjaar moet koopkragmeters herprogrammeer wees om sodoende gebruik te maak van ’n nuwe stel 20-syferkodes, nadat die ou stelsel wat in 1993 van stapel gestuur is, uitgeput is.

Binne die Drakenstein-munisipaliteit was ook talle huise wat dié herprogammering moes ondergaan omdat die munisipaliteit die hoof-kragvoorsiener van dié koopkragmeters is.

Volgens Bradley Brown, finansiële hoof van die munisipaliteit, is alle “formele herkoderingsprosesse van voorafbetaalde koopkragmeters van munisipale kliënte” voltooi nadat die Drakenstein-munisipaliteit reeds in 2019 met die proses begin het.

“Neem asseblief kennis dat dié inligting die herkodering van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters van direkte Eskom-kliënte en areas waar Eskom direk elektrisiteit voorsien – naamlik Gouda, Hermon en Saron – uitsluit,” volgens Brown.

Dit is egter onduidelik wanneer hierdie herkodering gaan plaasvind.

Volgens ’n Netwerk24-berig wat op 5 Augustus aanlyn gepubliseer is, het Eskom 6,9 miljoen van die meters.

“Hoewel hy nou voorafkodering vanuit sy sentrale stelsels vir 6,6 miljoen van die meters afgehandel het, moet daardie verbruikers steeds self die twee 20-syfer-kodes intik nadat Eskom die meters vooraf gekodeer het.”

“Nog net 3,92 miljoen van hulle het dit gedoen, volgens inligting van Eskom se webblad, en daar is minder as vier maande oor tot 24 November,” luidens Netwerk24.

Kragverbruikers wie se meters nie deur die herprogrammeringsproses is nie, sal nie ná 24 November enige krag kan koop of laai nie.

Die hoof-uitdaging wat die Drakenstein-munisipaliteit ervaar het, was ontoeganklikheid weens onder meer huiseienaars wat in die buiteland woon en toegang wat geweier is weens sekuriteits- en gesondheidsredes soos Covid-19.

“Ontoeganklikheid by sekuriteitskomplekse en huise wat onbewoon is, was ook ’n uitdaging,” het Brown gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.